God se wil is nie ‘n super-kompleksiteit nie.
God kies om sy wil eenvoudig aan ons oor te dra.
Dit is dat God sy koninkryk in Jesus na ons toe bring,
wat lei tot ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde,
waar sy kinders in sy nuutgemaakte skepping by Hom sal wees.
God vereenvoudig sy wil vir ons op aarde!
Sodat elke mens tot kennis van die waarheid kan kom, en gered word.
Sy wil is een en dieselfde vir alle mense op aarde.
Dit is so maklik verstaanbaar as wat kan kom:
Glo in Jesus Christus en word deel van God se ewige koninkryk.
Laat hierdie koninkryk, saam met Hom, sigbaar kom! Leef en doen dit.
Jesus leer ons om daarvoor te bid!
“Ons Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word;
laat U koninkryk kom; laat U wil op die aarde geskied,
net soos in die hemel.” Matteus 6:9-10.
Dit is God se wil.
Jesus bid vir God se wil!
Ons nooi nie God na ons daaglikse lewe toe nie.
God nooi ons na sý wil toe, en ‘n lewe daar vir Hom!
Ons word nou lewende en heilige offers vir God!
Ons dink totaal nuut en anders en leef anders.
Agter is nou voor in die ry.
Klein is nou groot en swak is sterk. Krag irrelevant.
Status is niks en rykdom maak nie saak nie.
Nou is intellek, slim redenasies,
en menslike oplossings nie die sleutel nie.
Nou tel nuwe Gees-vervulde harte…, én koppe!
Ons gee nie net ons harte vir die Here nie.
God vra ook ons denke. Ons gedagtes verander.
Ons voel nie net anders nie, maar dink totaal anders.
As jy nog steeds dieselfde dink oor dinge soos geld, politiek,
ander mense, of God se skepping,
het jy nog nie jou kop deur die Here laat nuutmaak nie!
Kyk wat sê God in Romeine 12:2 oor sy wil en jou kop:
“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is.”
Ernest