“Wees in alle omstandighede dankbaar,
want dit is wat God in Christus van julle verwag.” 1 Tessalonisense 5:18.

Vreugde is nie vir ‘n kind van die Here opsioneel nie.
Vreugde en blydskap is deel van die DNA van ‘n kind van die Here.
God se uitdruklike wil is dat ons vreugde en blydskap sal ken.
Teenoor klaagliedere en treurmares is daar nou lof en dank.
Nou sing Paulus en Silas in Handelinge 16,
al sit hulle vir hulle geloof, van alle dinge, in die tronk,
en al verstik hulle as’t ware in hul eie bloed nadat hulle wreed mishandel is.
Die Heilige Gees beheer nou hul harte met die nuwe lewe in die Here!

Dit is jammer dat so min Christene insien dat vreugde en
dankbaarheid essensieel tot God se wil is.
Baie mense bring hul lewe in die kerk deur en mis die vreugde van God.
Hulle gaan onvergenoegd deur die lewe.
Hulle laat nie toe dat die Heilige Gees hulle denke vernuwe nie.
Hul omstandighede en die konteks van die dag bepaal hulle lewe.
Dit maak dat hulle deurgaans reaktief leef,
in plaas van proaktief vanuit die vreugde van nuwe lewe in die Here!

Christene se “default”-modus en hulle basiese operasionele sisteem,
is die van dankbaarheid en vreugde!
Ons lewe is vir tyd en ewigheid deel van God se wil.
Ons leef alreeds ons toekoms saam met God!

Ernest