Doen God se wil.
Doen dit deur onder leiding van die Heilige Gees
in Jesus se voetspore te loop.
Laat vaar die ou wettiese godsdiens van uitgediende gebruike.
Laat die Heilige Gees jou denke vernuwe.
En laat die Gees jou ook leer hoe om lyding te verduur,
ter wille van Christus.

Soms is lyding juis deel van God se wil.
Wanneer?
Petrus verduidelik dit in die Petrusbrief.
Hy sê in 1 Petrus 3:17:
“As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen,
is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.”
Wanneer ons Jesus volg moet ons teenstand verwag.
Jesus is beslis nie vir alle mense goeie nuus nie,
veral nie vir hulle wat kies om in sonde voort te leef nie.

Petrus waarsku juis teen hulle in 1 Pet. 4:4:
“Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met
hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie,
en hulle beswadder julle.”
Van vers 12 af sê Petrus dan:
“Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef
waaraan julle onderwerp word nie.
Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.
Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel…”

Om te ly ter wille van jou beginsels en jou geloof, is eerbaar in God se oë.
Petrus roep ons op om nie hieroor skaam te kry nie, in vers 16.
Dit is ‘n lewe waar die “self” gekruisig is ter wille van die Here.
“Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely,
en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het,
sodat julle in sy voetspore kan volg.” 1 Pet. 2:21.
Wanneer ons ly, ook in pyn, hartseer of verlies,
word die manier waarop ons ly, en daaroor getuig, ‘n getuienis vir Christus.
Ons lyding laat ons God beter leer ken.
Ons lyding en hoe ons daarin reageer,
lei ook ander mense na die Here toe!

Ernest