Wanneer ons deur Christus in ‘n verhouding met God begin leef,
lei die Heilige Gees ons om binne God se oorkoepelende wil te leef.
God se wil is sy verhouding met ons wat nie opgehef word nie,
selfs al gebeur dinge met ons wat teen sy wil is!
Wanneer ons dalk die slagoffer van misdaad is,
of as een of ander dronk persoon in ons motor vasjaag en iemand sterf,
is misdaad of dronkenskap beslis nie God se wil nie, al gebeur dit met ons.
Dan beteken dit verseker ook nie dat ons nou buite God se wil is nie.

Ons leef voortdurend in die raamwerk van God se wil,
óók al gebeur slegte dinge met ons.
Dit beteken ook nou nie dat alles wat onsself doen,
God se goedkeuring wegdra nie.
Of dat dit wat ander mense of die lewe aan ons doen,
God se goedkeuring wegdra nie.
Baie dinge in ons, en rondom ons, is nie God se wil nie.
Maar ons val nie elke slag uit God se hand as ons oortree nie,
of as iets soos siekte, dood of misdaad of wat ookal,
buite ons beheer met ons gebeur nie.

Sonde is nie God se wil nie.
Soms gebeur dinge met ons, as gevolg van ons eie sonde.
Ander kere gebeur dinge met ons, as gevolg van ander se sonde.
En dan gebeur daar ook dinge met ander mense,
as gevolg van ons sonde!
En dan gebeur daar ook dinge met ons,
sonder dat dit enige iemand se sonde is.
Wanner ons leed ervaar beteken dit nie dat God
nie meer in beheer is nie.
Of, nog erger, dat Hy sulke rampe beplan het nie.
God se wil met ons is nie “jy is nou in, en jy is nou weer uit” nie.
God se almag word nie deur ons menslike
tekortkominge en foute uitgeskakel nie.
God se almag word in die Bybel beskryf binne die
verhoudingsmatige aard van Wie Hy self is.

God is nie ‘n onbeweeglike God nie.
Hy is nie soos die Griekse gode wat alles in detail beplan,
en dit uitvoer ongeag hulle wat aanbid nie.
God is die lewende God van liefde en genade,
en daarom gebeur sy wil verhoudingsmatig met ons.
Daarom kan ons met vrymoedigheid ingaan na Hom toe.
Daarom kan ons met vrymoedigheid bid,
en al ons begeertes deur gebed en smeking,
en met danksegging aan Hom bekend maak – Fil. 4:6

En Hy bly ook in beheer, al gebeur wat ookal met ons.
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte
of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte
of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping
kan ons van die liefde van God skei nie,
die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” – Rom. 8:38-39.
Niks kan ons van God se liefde skei nie.
Sy wil met ons is verhoudingsmatig,
binne sy liefde en genade vir ons!
Gaan leef!....saam met Hom!

Ernest