As nuwe mens in die Here Jesus Christus,
is jy nou ‘n gesant van Christus. 2 Kor. 5:20:
“Ons tree dus op as gesante van Christus…”

Reeds in Genesis 1:26 het God gesê:
“Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger,
Ons beeld, sodat hy kan heers …”

In Christus is ons oorwinnaars,
en herstel, om saam met God in die wêreld te heers.
Ons verteenwoordig die Here,
en ons verteenwoordig nou die koninkryk van God in hierdie wêreld.
Soos ‘n ambassadeur,
sien ons om na die belange van God se koninkryk.
Ons verteenwoordig die Koning van die konings, die Here van die here.
Wat ‘n eer is dit nie!
En God het ons bemagtig om dit te kan doen.
Ons dra sy Naam. Die Heilige Gees is in ons.
Ons het die krag van die Gees in ons.
Omdat “..Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is”,
kan ons inderdaad God se verteenwoordigers wees in sy krag en gesag!

Ons leef nie in ‘n tyd om half heilig en half toegewy te wees nie.
Dit is nou die tyd om voluit vir die Here te leef.
Om jou hele lewe vir Hom te gee.
Om in alles in jou lewe sy verteenwoordiger te wees.
Moenie net aan jouself dink as ‘n gewone man of vrou nie,
maar dink aan jouself as ‘n gesant van Christus,
God se verteenwoordiger,
iemand wat sy koninkryk laat kom waar jy leef en beweeg.
Daar sal God se wil deur jou grondvat in hierdie wêreld,
deur die lig wat jy bring!

“Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly,
onberispelike kinders van God,
te midde van ontaarde en korrupte mense.
Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld.” Fil. 2:15.

Ernest