“Dit gebeur sodat ons nie op onsself sou vertrou nie,
maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.” 2 Kor. 1:9.

Dankbare mense gee nie moed op nie want hulle weet Jesus het opgestaan.
Hulle weet ook dat ons wat in Hom glo, saam met Hom opgestaan het.
Nou vertrou ons nie meer op onsself of op enige iets anders nie, maar op God alleen.
God wat die dooies opwek tot die lewe.

Hoé verwag God, moet ons as dankbare mense lewe?
Ons sou lank hieroor kon gesels, maar kom ons onthou drie dinge:

Woody Allen het gesê:
“80% of life is just showing up.”
Om deel te wees van die lewe saam met die Here in hierdie wêreld,
moet ons dáár wees vir die Here.
Ons moet in dankbaarheid vir ons opstanding en nuwe lewe,
beskikbaar wees vir die Here.
As ‘n dankbare mens blom jy waar die Here jou plant.

Wanneer jy blom, blom jy soos ‘n sonneblom.
Sonneblomme draai hulle koppe na die son.
Net so is dankbare mense se lewens gefokus op God.
Hulle laat toe dat die Heilige Gees hulle na God toe draai.
Dankbaarheid is om die seëninge van die Here in jou lewe te tel.
Dit bring mee dat jy deurlopend God se hand in jou lewe raaksien.
Soos ‘n sonneblom se kop hang as die son nie skyn nie,
net so kan ‘n dankbare mens nie blom sonder God nie.
Dankbaarheid is om met jou hele lewe eer aan God te leef, aktief,
omdat Hy aan jou meer as net asem gegee het.
Hy het aan jou die ewige lewe gegee,
deur jou geloof in die kruis en die opstanding!

‘n Dankbare mens vertrou op God.
Om God te vertrou is om aan die wêreld te getuig:
“Jesus het opgestaan, en ek saam met Hom!”
Karl Barth, die grootste teoloog van die 20e eeu,
het die aand voor sy dood in 1968 aan sy vriend Thurneysen gesê:
Moenie jou ore laat hang nie. Moet nooit moed opgee nie!
Want daar word geregeer in hierdie wêreld, nie in Moskou nie,
nie in Washington nie, nie in Peking nie,
maar daar word op die aarde regeer vanuit die hemel!
Die Here regeer tot in ewigheid!
Ook in jou eie lewe.
Dit is jou grootste rede tot dankbaarheid.
Vertrou Hom!....leef dankbaar vir Hom!

Ernest