Psalm 37:5 sê:
“Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom;
Hy sal sorg.”

Moenie mislukking en moeilike tye persoonlik opneem nie.
Onthou regtig Psalm 37:5.
Uit Dawid se lewe leer ons om nie mislukking en moeilike tye
persoonlik op te neem, asof jy self die mislukking is nie.
Saul gooi hom met ‘n spies, maar hy hou dit nie teen Saul nie.
Selfs wanneer Dawid hom baie maklik kan doodmaak, doen hy dit nie.
En wanneer Saul doodgaan, treur Dawid oor die koning se dood.
Dawid skryf selfs ‘n lied oor hom.

Neem die persoon uit die saak, en onthou:
Mislukking beteken nié dat jý ‘n mislukking is nie,
maar net dat jy nie hierdie keer geslaag het nie.
Dit beteken nie jy het niks bereik nie, maar dat jy iets geleer het.
Dit beteken ook nie jy is dwaas nie, maar dat jy geloof het.
Jy is nie verneder nie, maar die belangrike is dat jy probeer het.
Dit beteken ook nie jy sal nooit sukses behaal nie,
maar eerder dat jy op ‘n ander manier moet probeer.
Jy vermors verseker nie jou lewe met mislukking nie,
maar jy begin van voor af vars en nuut, met meer wysheid.
Mislukking moet jou nie laat opgee nie,
maar jou motiveer om weer te probeer,
met die ondervinding wat jy opgedoen het.
Dit beteken ook nie dat God jou in die steek gelaat het nie.
Dink weer mooi oor sy sorg vir jou, en jou vertroue op Hom.
Hy het ‘n beter plan vir jou as die plán wat nou misluk het.

Mislukking leer ons meer hoé afhanklik ons van God is,
om ons lewe aan Hom oor te gee,
en om Hom te vertrou,
dat Hy inderdaad tot in die fynste besonderhede vir ons sorg.

Aanvaar verantwoordelikheid vir jou gedrag.
Maar moenie mislukkings persoonlik neem,
en dink jý is ‘n mislukking nie.

Ernest