Gelowiges kweek die wysheid aan om te weet tye van mislukking,
Veranderings, en moeilike tye, is net tydelik.
Deur sulke tye wéét hulle Psalm 63:9:
“Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.”
Dawid skryf dit terwyl hy vir Saul wegkruip.
Hy weet Saul wil hom doodmaak,
maar hy weet ook waar sy hulp vandaan kom.

Die geskiedenis is vol mense wat op die oog af eers misluk het,
en ontdek het dit is net tydelik. Uiteindelik het sukses gekom.
Wolfgang Mozart moes hoor dat Keiser Ferdinand oor sy opera,
“Die Huwelik van Figaro”, sê dat dit te raserig is.
Vandag is dit een van sy beroemste operas.
Vincent van Gogh het net een skildery in sy lewe verkoop.
Vandag verkoop sy skilderye vir rekord bedrae.
Thomas Edison was een van die grootste ontdekkers in die geskiedenis.
Onderwysers het gedink hy is onleerbaar!
Albert Einstein se skoolhoof het vir hom gesê hy sal niks in die lewe bereik nie!

Mense het dikwels redes om te dink hulle gaan misluk.
Gelowiges leer en besef dat sulke dinge en redes net tydelik is.
Ons het nie die eerste keer probeer loop en dit dadelik volmaak reggekry nie.
Gelowiges weet dat hulle in die krag van die Here enige iets kan doen.

By Dawid leer ons dat gelowiges nie maklik opgee nie.
Die draai in die pad is nie die einde van die pad nie.
Daarom moet ons nie misluk deur níe die draai te neem nie.
Sien mislukking en moeilike tye as geïsoleerde geleenthede.

Charles Spurgeon het gesê:
“Wysheid is die regte gebruik van kennis.
Om te weet is nog nie om wys te wees nie.
Die grootste dwaas is die alwetende dwaas.
Maar om te weet hoe om kennis te gebruik is wysheid.
En kennis word ook opgedoen deur mislukking.”

Ernest