Kolossense 3:16 sê;
“Met dankbaarheid in julle hart moet julle psalms,
lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.”

Hierdie vers laat jou dink aan die wonderlike rolprent “Amadeus”
van die 1980’s, wat gegaan het oor twee uiteenlopende personlikhede.
Aan die een kant Salieri, die hofkomponis van die keiser,
en aan die ander kant Mozart, die briljante geniale komponis.
Die oninspirerende Salieri, met sy beperkte talent,
was baie jaloers op Mozart, met sy onbeperkte talent.
Tog het Salieri na elke stuk musiek wat hy gekomponeer het
opgekyk na die hemel en gefluister:
“Grazie, Signor.” Dit beteken “Dankie, Here.”

Hierdie woorde van Salieri lê in die hart van elke dankbare gelowige
se reaksie op God se werk in sy lewe. “Grazie, Signor.” Dankie Here.
Die woord “grazie” het sy oorsprong van die woord “gratia”,
wat genade beteken.
Ons dankbaarheid is soos ‘n rivier wat ontspring
uit die fontein van God se genade.
Daar staan drie woorde oor ons lewe geskryf:
God se genade. “Amazing Grace.”

Daarom kan ons nie anders as om ‘n dankbare lewe te leef nie.
Dankbaarheid lei jou na God en na ander mense toe.
Ondankbaarheid dryf jou weg van God en ander mense af.
Dankbaarheid laat jou ver sien. Laat jou tot in die ewigheid sien.
“On a clear day you can see forever.” Dankbaarheid skep visie.
Dankbaarheid laat ons as’t ware tot in die hart van God sien.
En dan kan ons nie anders nie, as om in dankbaarheid
God in ander mense en dinge raak te sien!

Ernest