Partykeer hou ons geloof ons in die moeilikste
omstandighede denkbaar steeds regop.
Ander kere worstel ons met bitterheid, opstand en kleingeloof,
wanneer die snykante van die lewe diep letsels op ons laat.
Dit help nie om dan ‘n vroom godsdienstige sousie oor die lewe te gooi nie.
Ons wil nie graag praat oor ons “ontevredenheid” met God nie.

Die Bybel vertel van mense soos Jeremia en Job,
wat met geloof en al in die moeilikheid beland het.
Dit laat ons sien dat ook Godsmanne van die Bybel,
geworstel het in hul geloof met twyfel en vrese.
En hierdie verhale wys ook hoe die lig van geloof
weer in hul lewe deurgebreek het.

Jeremia 15:18 vertel hoe Jeremia ook by ‘n punt
gekom het van “genoeg is nou genoeg”:
“Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie,
waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie?
Ek kan nie op U reken nie,
net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie.”

Ja, jy lees reg. Jeremia sê dit vir God.
Jeremia is God se profeet wat hard met die volk moet praat,
oor hul verhouding met God.
Hy word deur hulle verwerp en is baie ongewild.
Jeremia voel dat hy misluk in sy roeping vir die Here.
Boonop voel hy dit is omdat God hom in die steek gelaat het!
Voorheen het hy op God gereken, en, so voel hy,
nou het God hom in die put van ellende gedompel.
In plaas van uitkoms en resultate op sy werk vir die Here,
gebeur net mooi die teenoorgestelde. Hy ly intens.
Bogenoemde vers 18 is nou sy harde woorde,
in sy bedankingsbrief van God se werk. Hy is klaar!

Die verrassende is dat God hierdie woorde in sy Woord plaas. Meer nog.
Dat God na alles bereid is om Jeremia op sy verwyte te antwoord.
God straf hom nie hieroor nie. En Hy aanvaar ook nie sy bedanking nie.
Vers 19 sê dat God hom steeds verder wil gebruik.
Hy het goed gehoor hoe swaar sy dienskneg kry,
en gee aan hom nog groter innerlike krag om staande te bly.
Daarmee saam besef Jeremia opnuut sy afhanklikheid van die Here.

Geloof beteken nie dat jy die hele tyd mooi broodjies met die Here bak nie.
Jy kan reguit met die Here praat oor wat jou pla, al is dit die Here self.
God ken die verskil tussen mense wat opreg in hulle geloof worstel,
en na hulp en antwoorde soek, en mense met growwe ongeloof.
God sal nooit sy rug op iemand draai wat opreg met Hom worstel nie.
Die Bybel is vol van sulke mense en verhale.
Neem jou seerkry en swaarkry direk na God toe,
en worstel eerlik met Hom daaroor.

Ernest