As daar al ooit ‘n vroom mens op aarde was, dan was dit Job.
Selfs God het so gesê. Job 1:8 sê:
“Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg,
hy dien My en vermy die kwaad.”

Maar dan kom Satan en sê dit is omdat dit so goed gaan met Job.
Ons weet die een ramp na die ander het Job getref.
Maar Job het geweier om sy geloof af te sweer.
En nog minder het hy alles net gelate aanvaar!
Hy tree in ‘n ernstige debat met God en worstel met Hom!
Dit raak later ‘n hofgeding waar hy God in die beskuldigdebank plaas.
Hy het sy uiterste bes gedoen om God te dien.
En daarvoor kry hy swaarkry op swaarkry.
Dikwels sê Job aan God dat hy eintlik onskuldig is!...aan wat ookal!
Meer nog. Hy het soveel goed gedoen. Armes gehelp.
Die weduwees en wese se regsake behartig, en nog, en nog….

Job se drie vriende word sommer ook advokate vir God, téén hom wat Job is.
Elifas sê sommer vir hom; as jy onreg plant sal jy onreg oes.
Bildad voel dieselfde daaroor. Job moes onreg gepleeg het!
Hy moet sy trots in sy sak steek en dit bely.
Sofar is ook oortuig dat Job gesondig het. Dit kan nie anders nie.
En daarom ontvang hy nou sy verdiende straf.
Maar Job hou vol dat hy onskuldig ly. En hy beskuldig God….!
In 6:4 sê hy dit is die Here self wat brandpyle op hom afskiet.
Hy sê dat God Hom nie eers steur aan hy wat Job is se ónskuld nie.
Volgens 16:9 kom hy tot die gevolgtrekking dat God nou sy Teenstaander is!
En nou sit Job op moedverloor se vlakte.
God het sy Opponent geword wat hom net dieper in die grond intrap.

Job sê harde woorde vir God. Sy eerlikheid het nie perke nie.
As ons nie geweet het hierdie woorde staan in Job in die Bybel nie,
en dat dit deur die gelowige van bogenoemde teks gesê is nie,
sou ons gedink het dit is growwe ongeloof, en opstand teen God.
Tog staan dit daar, om aan ons te wys dat ons op die man af
met God kan worstel oor ons geloof,
en die begrip van sy wil, en wat met ons gebeur.
Verder wys dit vir ons ‘n baie belangrike waarheid:
Moet nooit in jou swaarkry jou rug op God draai nie.
Bly volhardend worstel met God, al is jou probleem God self!
Job het hom as’t ware óp God téén God beroep!
Maar hy het nooit sy geloof in God laat vaar nie.
In Job 19:25 bely hy: “Ek weet dat my Losser leef,
uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!”

Wanneer die lewe jou die dag so hard slaan dat alles sinneloos word,
selfs ook jou verhouding met God…, dan moet jy juis met God bly praat,
al is dit al wat jy doen! Hy kan dit vat. Alles wat jy vir Hom sê.
Al jou beskuldigings en verwyte. Al jou waaroms en hoekoms.
Al jou pyn en trane, en jou rou wonde, is nie te veel vir Hom nie.
Glo dit. Vertrou Hom….ten spyte van alles!

Ernest