Job het God venynig beskuldig en verwyt.
Sou God nou met dieselfde venyn reageer?
Nee, niks daarvan nie. Hy antwoord met Job 38:3-5:
“Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit? Wie het ‘n maatlyn oor hom gespan?”

Eers in hoofstuk 38 kom God aan die woord,
nadat Hy heeltyd na Job se beskuldigings en verwyte geluister het.
En God se antwoord is verrassend.
In plaas daarvan dat Hy redes gee vir Job se lyding,
en in plaas van die verdediging van sy eie posisie,
wys God aan Job sy ware Self.
Hy neem Job op ‘n toer deur sy eie skepping en wys aan hom Wie Hy werklik is.
God wys aan Job dat Job nie eintlik insig het in God se raadsplan nie.
Job moet hom maar regmaak om God te antwoord,
as hy met die ander kant, die regte kant, van sy God te doen het.
En hierdie kant is God se hart wat warm klop vir sy skepping, wat Job insluit.
Terwyl God so saam met Job verby die verskillende kunswerke
in sy skepping stap, vra Hy vir hom of hy Hom steeds so maklik van
liefdeloosheid en onbetrokkenheid kan beskuldig.
Kan hy wat Job is, doen wat God doen? Ken Job sy plek?
Hy beskou God se handewerk maar uit aardse perspektief.
God is in die hemel, en op die aarde. En Job is net op die aarde.
Maar God is ook die goeie God wat Hom in elke stukkie
van sy skepping verlustig en verheug.
Sou God dan ooit sy rug op sy kinders draai?
Die hoogtepunt van sy skepping! Geskep na sy beeld.

Job het gesnap wat God aan hom sê.
En toe plaas hy homself in die beskuldigdebank.
“Wie is dit wat U bedoelings wou dwarsboom,
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie:
U wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.” – Job 42:3
Daarom breek die belydenis oor Job se lippe:
“Tot nou toe het ek net gehoor wat die mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.” - Job 42:5-6.
God is nie kwaad vir Job nie en vergeld hom nie.
Tog is God ontstig teenoor Job se vriende,
wat Hom so maklik wou verklaar,
en nie die waarheid oor Hom praat nie. – Job 42:7.

Job het nooit antwoorde op sy vrae gevind nie.
God gee nie redes oor sy lyding nie. Behalwe dat dit nie straf is nie!
Maar Job vind God en “sien” Hom self. Hy ontdek God se hart.
God is nie verduidelikings aan ons verskuldig nie.
Hy doen veel meer vir ons, as om net antwoorde op ons vrae te gee.
Hy gaan saam met ons deur diep water en deur vuur!
Hy laat Hom vind deur die wat Hom bly soek.
Selfs in groot nood en stryd en seer.
God laat Hom op ‘n nuwe manier leer ken, deur geloof wat nie opgee nie.

Ernest