Psalm 141:3:
“Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”
Glo jy regtig jy moet ‘n wag voor jou mond sit?
Dit wil voorkom asof die meeste gelowiges dit nie glo nie.
Hulle beweer hulle vertrou God, en hulle bid,
maar dan praat hulle asof God glad nie in die prentjie is nie.
Hulle sal bid vir hulle gesondheid, maar as’t ware in dieselfde woorde sê:
“Ag, ek wéét ek gaan hierdie winter weer griep kry…”
Hulle glo op die oog af een ding, en bid daarvoor,
en praat dan op die woord af die teenoorgestelde.
Ons praat baie daarvan om nie “negatief te spreek” nie.
Ons praat van “spreek jy lewe of spreek jy dood”.
Die belangrike is dat ons regtig nie besef watter geweldige krag
die woorde het wat ons spreek nie. Selfs onnadenkend.
Ons woorde het ‘n geweldige impak op ons lewens.
Ons woorde sê ook wat ons glo, al bid ons anders.
Ons woorde beïnvloed letterlik ons toekoms.
Ons praat wat ons dink, en leef wat ons praat.
Wanneer jy ‘n wedergebore gelowige is,
het jy alreeds die kragtigste voorbeeld van jou woorde beleef.
Jy glo met jou hart, en met jou mond bely jy,
met jou woorde, die Here Jesus as jou Here, en jy volg Hom!
Jou geloof, en jou belydenis, wat jy daaroor sê, verander jou hele lewe!
So, jy weet eerstehands hoe kragtig jou woorde, jou belydenis, kan wees.
Nogtans vind ons dit moeilik om heeltyd woorde van geloof te spreek.
Ons leef in ‘n wêreld waar die stroom eerder negatief spreek,
as om positief te spreek.
Die wêreld rondom ons het ‘n negatiewe vloei.
Soos ‘n voortsnellende stroomversnelling,
probeer dit jou altyd in dieselfde rigting saamsleur.
Ons gesprekke oor ons land en die politiek beklemtoon dit.
Ons sal bid vir ons land, van ons knieë af opstaan,
en dan negatief gaan spreek oor ons land.
Ons sal soos doemprofete praat, en van erg tot erger spreek.
Watter geloof is dit? Watter getuienis is dit? Watter gebed is dit!
Natuurlik hou ons kontak met die realiteit.
Dit is juis die realiteit wat ons laat bid!
Maar om in geloof te leef, en woorde van geloof te spreek,
is om stroomop teen die negatiewe vloei te glo, te getuig, en te leef.
Dit is om regtig te glo wat jy bid,
en met jou woorde deel te word van die verhoring van jou gebed!
Moenie stroomaf dryf nie!
Moenie dat negatiewe gesprekke jou meesleur nie.
Glo wat jy bid! En praat wat jy glo en bid!
Bid Psalm 141:3: “Here, stel ‘n wag voor my mond,
bewaar die deur van my lippe.”
Plaas nou ‘n wag voor jou mond!
Wees vasbeslote om jou mond voortdurend met jou geloof en gebed te vul.
Vul jou mond met die Woord van God oor dit waaroor jy praat.
Glo regtig wat jy bid!
En praat wat jy glo en bid!
Ernest