Lewe die liefde van God uit, want “..ons weet hoe lief God ons het.
Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort,
deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” – Rom. 5:5.

Jy hoef nie as kind van God bekommerd te wees dat jy
nié genoeg liefde in jou het nie.
God se liefde is uitgestort in jou hart!
Wat jy moet doen is om ‘n besluit te neem om God se liefde
uit jou hart uit te laat vloei, na Hom en na mense toe.

Verbind jou vandag opnuut daartoe om die liefde van God,
wat Hy in jou hart uitgestort het, uit te leef.
God wil deur jou genesing aan mense se harte bring.
God wil deur jou liefde bring, juis wanneer dinge verkeerd loop.
Leer om net liefde te kommunikeer. Selfs wanneer jy teregwys.
Leer om in liefde woorde van genade se spreek.

Besluit om, deur die krag van die Heilige Gees in jou,
elke struikelblok te verwyder wat die liefde van God
keer om vryelik deur jou te vloei.
Laat toe dat die Heilige Gees die liefde wat jy uitleef laat toeneem.
Loop oor van die liefde van God wat in jou is,
wat meer is as wat jy ooit kan dink of bid.
Laat net toe dat die Heilige Gees dit deur jou laat vloei na mense toe.
Word dit wat die wêreld rondom jou die nodigste het:
‘n lewende en dienende voorbeeld van die liefde van God.
Wanneer jy in ‘n noue verbintenis met die Here leef,
behoort jy “self ook te lewe soos Jesus gelewe het.” – 1 Joh. 2:6

Ernest