Glo jy dat jy ‘n verskil kan maak aan ons land se omstandighede?
Sal jy dit glo as die Here dit vir jou in sy Woord sê?
Dat jý spesifiek betrokke moet wees, om namens Hom ‘n verskil te maak?
Kyk wat sê die Here vir sy kinders in ons land:
“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking,
voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense,
vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen,
sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei,
in volle toewyding aan God en in alle eerbaarheid.” – 1 Tim. 2:1-2.
Let op die woorde “Ek dring daarop aan….”
Dit beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons hierdie gebede moet bid.
Hierdie opdrag van die Here is tog duidelik! Is dit nie?
En nogtans, ten spyte van ons onstuimige omstandighede in ons land,
is ons as gelowiges nie getrou in die uitvoering van hierdie opdrag nie.
Hoekom nie?
Is dit omdat ons oorweldig word deur die probleme rondom ons?
Dat ons dink ons gebede sal nie ‘n duik maak aan die probleme nie?
Dan bid ons nie omdat ons per implikasie dink dat God
nie ‘n verskil deur ons gebede kan maak nie.
Het God dan kleiner geword as die probleme van ons land?
Dit is dringend tyd dat ons begryp dat ons in geloof gehoorsaam
moet wees aan hierdie opdrag van 1 Tim. 2:1-2.
Dat ons vir alle mense in ons land moet bid.
Dat ons moet bid vir die wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen.
Dat ons moet besef dat niemand of niks hoegenaamd
God se doel vir sy kinders kan omverwerp nie.
Inderdaad. Hou op negatief praat,
en bid eerder vir elke keer wat jy oor die land praat.
God het ons geroep om in te tree vir alle mense in ons land,
en vir hulle wat regeer en gesag uitoefen.
As gelowiges glo ons hierdie is in die eerste plek God se land.
Tot die wederkoms….behoort dit aan God!....en niemand anders.
God het ons sy Woord gegee oor ons land.
God gee ons gebed oor ons land.
God gee sy krag aan ons oor ons land.
Sy Naam, sy gesag, sy geloof aan ons, oor hierdie land.
Ons het al die toerusting van God ontvang,
om sy koninkryk te laat kom in hierdie land.
En dit alles begin by gebed, en dat ons self deel word van God
se gebedsverhoring vir hierdie land.
God wil hierdie land vir Hom hê.
Dink jy Hy wil dit vir enige iemand anders gee?
En die manier waarop God sy koninkryk in hierdie land vestig,
is deur sý ambassadeurs – ons! Sy kinders uit ál die mense in ons land.
Sy biddende ambassadeurs wat met oorgawe hul gebede uitleef!
Moenie die wêreld-veranderende krag van God in jou onderskat nie.
Ernest