Jakobus begin sy brief deur met ons te praat oor beproewings.
Wanneer ons geloof die toets daarin deurstaan,
stel dit ons in staat om te volhard.
En wanneer die volharding end-uit gehou word,
bring dit ons tot geestelike rypheid.
Maar in hierdie proses kom ons dikwels wysheid kort.
Hy sê dan in Jakobus 1:5:
“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid,
en Hy sal dit aan hom gee,
want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
Wanneer ons met probleme of moeilike omstandighede worstel,
is die heel eerste ding wat ons moet doen om wysheid van God te vra.
Dit moet nie ons laaste uitweg wees nie.
Ons vra dikwels eers genesing, of krag, of geld, of meer kennis, of meer insig.
Ons kan dit alles kry, en steeds wysheid kortkom! Dan help dit nie regtig nie.
God se wysheid is die sleutel wat lewensdeure oopsluit.
Ons “mors” dikwels baie geestelike krag,
deur by God te pleit vir dinge wat ons dink ons nodig het.
Ons moet eerder hierdie krag en tyd gebruik om
wysheid by God te soek en daarvoor te vra.
Die wysheid wat God wil gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt.
Bring die hele probleem, soos jy dit ervaar, eerlik na die Here toe.
Moenie in die eerste plek net gerig wees op jou eie voordeel of vooroordeel nie.
Die Here weet waardeur jy gaan en Hy sal jou help om dit uiteen te sit vir Hom.
Hoekom? Wanneer jy eerlik met die Here daaroor moet praat,
help Hy jou om dit in meer objektiewe lig te sien, sy wil daarin te leer ken,
en nie net op jou eie voordeel of vooroordeel gerig te wees nie.
In hierdie gesprek met die Here,
reflekteer jy oor die problem, en groei in insig en wysheidoor die probleem.
Luister na die Heilige Gees se raad.
Dit beteken weereens dat jy nie jouself eerste stel nie,
maar die wil van die Here daarin soek.
Luister spesifiek na wat die Gees uit die Woord vir jou sê.
Die Gees gee nie ‘n “klinkklare antwoord” asof die Bybel ‘n woordeboek is nie.
Die Gees lei jou in vrae soos;
hoe die Here en jou medemens daarin gedien moet word,
hoe jy daarin moet groei in jou geloof en volharding,
hoe God daarin ge-eer moet word,
hoe jy daarin tot volle geestelike rypheid kan kom.
Deur jou “dood te bekommer” wurg jy God se Woord uit jou hart!
Lees oor dié sorge en bekommernis Markus 4:18-19.
Moenie dat jou kommer God se Woord “verstik” in jou lewe nie.
Gaan sit by die Here. Begin daar. Soek God se wysheid.
Luister soos ‘n goeie leerling met die doel om te leer en te doen.
Wees oop vir die Heilige Gees, met ‘n eie leerbare gees.
Wees bereid om tereggewys te word. Wees eerlik. Bely jou aandeel.
Daardie dinge is nie vir God ‘n verrassing nie. Hy weet dit reeds.
Tree dan op volgens die wysheid wat God jou gee.
Laat vaar jou gerigtheid op jou eie belange en metodes,
indien God jou op ‘n ander pad lei as wat jy gedink het.
Indien jy nie gehoorsaam is aan die Here nie,
sal die wysheid wat Hy gee jou niks help nie.
Wysheid is ‘n kosbare gawe wat die Here aan jou wil gee.
Spreuke 8:32-33 se oor wysheid:
“Daarom, kinders, luister na my,
dit sal goed gaan met die wat op my pad bly.
Luister na wat ek julle leer, moet dit nie verontagsaam nie,
dan sal julle ook wysheid hê.”
Ernest