As Paulus sou kon roem, volgens menslike oordeel,
sou hy heelwat hê om op te noem.
Hy wou egter liewer in sy swakheid roem,
want dan roem hy op die krag van God.
Die “doring in sy vlees” herinner hom altyd aan sy geringheid,
en aan sy algehele afhanklikheid van God.
Die gemeente van Korinthe kan sien wat hy doen en hoor wat hy sê.
As hy op sy swakhede roem tree hy nie soos ‘n dwaas op nie.
Vir die Korintiërs lyk dit na swakhede,
maar vir Paulus is dit die werk van die kragtige God in hom.
Sy lyding en wedervarings vir die evangelie weerspieël God se groot krag en genade.

“Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie,
is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee…” – 2 Kor. 12:7
Paulus sou nooit hoogmoedig kon word nie,
en dink dat hy in eie krag bereik wat hy bereik ter wille van die koninkryk van God nie,
want aan hom is ‘n doring in die vlees gegee.
Dit is onseker wat dit was en dit help nie regtig om daaroor te bespiegel nie.
Dit is egter ‘n voortdurende lyding, wat hom weerhou van selfverheffing.
Drie maal het hy gebid dat die Here dit van hom moet wegneem.
Die Here neem dit nie weg nie,
maar gee aan hom die krag om daarmee saam te leef.

Hy herinner Paulus daaraan dat sy genade vir hom genoeg is in 2 Kor. 12:9:
“My genade is vir jou genoeg.
My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
God se genade en seëninge wat Hy in Christus aan ons skenk,
is voldoende in voorspoed en teenspoed.
God se krag word juis sigbaar wanneer ons geheel en al
afhanklik van Hom is, en swak is in onsself.
Hoe minder van ons eiewaan, hoe meer word die krag van God sigbaar.
Ons swakheid is die draer van die krag van Christus.

Daarom behoort Paulus nie in verset te kom teen sy swakhede,
beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede nie.
En daarom sê hy dit dan ook in 2 Kor. 12:10.
Hy is bly hieroor ter wille van Christus en die koninkryk van God,
“want as ek swak is, is ek sterk.”
Wanneer ons op ons swakste is,
kom die krag van Christus gewoonlik op sy sterkste na vore.
Eers as ons geleer het om nie op ons eie krag staat te maak nie,
ontdek ons die oneindige groot krag van Christus wat deur ons werk!
Daarom het ons ook niks om op te roem nie, as op die Here alleen.

Ernest