Ons gehoorsaam nie die gebooie, die Woord van die Here,
en begin dan daardeur lief word vir God nie.
God, wat liefde is, 1 Joh. 4:8, kom eerste in genade na ons toe,
en gee aan ons sy liefde deur die Heilige Gees.
Deur wedergeboorte en bekering, wat die Heilige Gees in ons bewerk,
beantwoord ons dan God se liefde – word ons lief vir God.
Ons liefde vir God laat ons dan God se Woord gehoorsaam.
Hoe sou ons God kon gehoorsaam, soos God dit wil hê en bedoel,
as ons Hom nie liefhet nie?
Dan sou ons bloot die wet gehoorsaam uit vrees vir straf van God!
Dan sou dit bloot dwang wees, en wettiese gehoorsaamheid wees.

Liefde vir God bring gehoorsaamheid aan God.
Jy het God so lief, dat jy nie anders kan of wil nie,
as om Hom te gehoorsaam.
Gebrek aan gehoorsaamheid dui op gebrek aan liefde en dankbaarheid.
Dat jy God kén, en God liefhet,
dit laat jou sy gebooie gehoorsaam soos Hý dit bedoel.
1 Joh. 5:3 sê: “As ons die gebooie van God gehoorsaam,
wéét ons daaraan dat ons Hom ken.”

God se liefde, en die liefde wat ons vir God het,
deur die werk van die Heilige Gees, dring ons om Hom te gehoorsaam.
Jy ís reeds kind van God. Rééds gered en vry. Het rééds die ewige lewe.
Leef rééds in liefde teenoor God.
Jy kom nie die gebooie na om dit te kry nie.
In jou liefde vir God, wat dit alles aan jou geskenk het, Efesiërs 2:8-10,
gehoorsaam jy sy gebooie uit dankbaarheid!

Jesus het aan ons gewys hoe om God te gehoorsaam.
Kyk hoe treffend sê 1 Joh. 2:5 dit:
Wie die Here se Woord gehoorsaam,
in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik!

Ons verhouding met die Here is nie ‘n wet en oordeel verhouding nie,
maar in Jesus, en deur die Heilige Gees, is dit ‘n liefdesverhouding!
Eers ‘n nuwe hart van liefde, en dit bring gehoorsaamheid aan Hóm!
Die nuwe hart van liefde, wat God in genade aan ons skenk deur die Heilige Gees,
maak gehoorsaamheid aan die Here die wese van Christenwees.
Ek het God só lief , ek kan nie anders as om Hom gehoorsaam te wil wees nie!

Ernest