Goeters, goeters, goeters!
Ons hele lewe lank maak ons goed bymekaar.
Iemand sê hy kan nie eers op vakansie gaan nie,
want hy is bang iemand steel sy goed!
Ons maak nie net goed bymekaar nie, maar ook prestasies.
En ook aansien. En erkenning. Status.
Nuwe klere. Nuwe huis. Nuwe aanbouings. Nuwe motors.
Ete afsprake met die regte mense op die regte plekke.
En die dinge is nie per definisie verkeerd om te hê nie.

Die probleem is dat ons gefokus raak op voorspoed,
en ons het so goed geleer om God vir voorspoed te vertrou,
dat ons as’t ware te veel het om te hanteer.
Ons voorspoed, neem ons oor en beheer ons.
Salomo moes ook bid vir nie te min nie,
en ook nie te veel nie, sodat hy God vergeet nie.
Ons spandeer soveel tyd en energie op die “geldige dinge” van die wêreld,
dat ons onbewustelik op die natuurlike wêreld fokus,
en nie op God en die koninkryk van God nie.

Wanneer ons omstandighede haglik en desperaat is,
raak ons maklik toegewy aan gebed en aan die Woord.
Wanneer jy nie meer desperaat is nie,
dan kom die werklike toets van jou geloof.
Dit verg toewyding om God te dien wanneer jy voorspoedig is,
en eintlik dink dat jy ook onafhanklik is.
Wanneer jy kan doen wat jy wil, wanneer jy wil, soos jy wil.
Jou begeerte na die Here, en na die Here se dinge,
skuif dan maklik op die agtergrond.

Wanneer God jou sëen, moet jy altyd onthou:
God seën jou en leer jou van sy Woord, sodat jy ander daarmee kan seën.
Sodat jy sy koninkryk daarmee kan bou.
Moenie die seën waarmee God jou seën op jou eie begeertes verkwis nie.
Leef onder leiding van die Heilige Gees,
en doen wat God jou geroep het om te doen.
Moenie dat wêreldse dinge jou beroof van die roemryke dinge
wat God vir jou in gedagte het nie.
Moenie die avontuur mis en dat die wêreld jou beroof
van die opwinding van ‘n lewe deur die Heilige Gees nie.

Fokus jou gedagtes op die dinge daarbo,
en jy sal ontdek hoe hemels die lewe regtig veronderstel is om te wees.
Kolossense 3:1 en 2:
“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is,
moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is,
waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is,
nie op die dinge wat op die aarde is nie….”

Ernest