Dit gaan so sleg met ons rugby dat ons al goed voel as ons goed verloor,
met min punteverskil, en nie sleg verloor met baie punte nie.
Die feit is dat ons nou al met al hoe meer en meer punte begin verloor.
Ons wonder nou al of ons speel om te wen, of om goed te verloor.
Mense sê dikwels dat dit nie gaan oor wen of verloor nie, maar oor hoé jy speel.
As gelowiges kan ons egter weet, verseker wéét,
dat ons reeds in Christus die oorwinning behaal het!
Ons kan nie verloor nie, en ons speel soos wenners!
Dit gaan absoluut net oor wen in die Naam van die Here!
Enige afrigter sal vir jou sê dat jy met ‘n wenner
se ingesteldheid moet speel om te wen.
En dit is presies wat die Here deur sy Gees vir ons gee.
Ons is wenners, en ons lewe met die ingesteldheid van wenners!
Ons geloof in Hom is so groot dat ons wéét;
ons sal enige hindernis oorkom wat die duiwel in ons pad lê.
Ons weet ons sal oorwin want die Here het reeds oorwin!
Dit gaan net oor wen, in die Naam van die Here.
Kyk, hieroor moet ons regtig nuut dink.
Ons kan so maklik in ‘n gat beland, en daar bly sit soos verloorders,
omdat ons soos verloorders verkeerd dink.
Romeine 12:1-2 sê ons kan en moet nuut dink,
op grond van die gróót ontferming van God.
En dit is mos nou alles wat God reeds vir ons gedoen het,
en in ons gedoen het, en steeds doen!
Ons moet onsself gee as lewende offers wat vir die Here aanneemlik is.
En laat God jou verander deur jou denke te vernuwe!
Soos ‘n wenner gee jy jouself vir dit wat meer is, en groter is, as wat jy is.
Soos ‘n wenner onderskei jy waarop dit regtig aankom.
Jesus is die oorwinnaar en ons is oorwinnaars saam met Hom!
Niks kan jou keer nie.
Maak nie saak hoe groot jou probleem is nie,
die Here weet dit en is groter as dit.
1 Johannes 5:5 stel dit so:
“Wie anders is dit wat die wêreld oorwin,
as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is.”
Glo jy dit? Dan is jy nooit weer ‘n verloorder in God se oë nie.
In hemels naam, jy is nie eers ‘n “goeie verloorder” nie!
Daar is geen plek vir verloorders in die koninkryk van God nie.
As jy ‘n gelowige is, kind van God is,
is jy volledig oorwinnaar saam met die Here Jesus!
Jy leef nie óm te wen nie, jy leef kláár as oorwinnaar, en soos ‘n oorwinnaar.
Lééf as wenner met hierdie wennershouding!
Ernest