2 Kor. 4:3-4 sê:
“As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ‘n sluier bedek is,
is dit bedek net vir dié wat verlore gaan.
Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur
die god van hierdie wêreld verblind is,
sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie.”
God red nie iemand teen sy eie wil nie.
God red nie mense wat Hom volhardend verwerp nie.
Is daar dan nog enige sin dat ons vir sulke mense bid,
wat bewustelik weier om Jesus as Verlosser te aanvaar?
Verseker! Want ons weet ook dat dit God se wil is
dat almal gered moet word, en tot kennis van die waarheid kom.
Dink bietjie só daaroor;
Al dink die meeste ongelowiges hulle weier uit eie vrye wil,
om Jesus as Verlosser te aanvaar, is die feit dat God se Woord hier sê
dat dit die god van die wêreld is wat hulle verblind!
Satan blokkeer hulle insig in die waarheid.
Deur dus in te tree vir hulle, kan ons die Bose dwarsboom,
en so bid dat die sluier wat hulle oë, hulle insig in die waarheid bedek,
verwyder sal word en dat hulle tot insig van die waarheid kan kom.
Dit is ons verantwoordelikheid om te bid dat hulle tot die insig sal kom
waartoe die Gees hulle wil lei, en dat hulle omstandighede so sal wees
dat hulle in situasies kom waar hulle hiermee
gekonfronteer word, met waarheid en liefde.
Jesus stuur immers arbeiders in sy oes in!
Ons kan bid dat die Here voortdurend iemand sal stuur ,
met die boodskap van die evangelie,
om ongelowiges te lei na die waarheid en verlossing.
Iemand wat ‘n hardnekkige ongelowige was, getuig hiervan,
hoe hy al hoe meer daagliks deur mense genader en bereik is,
wat met hom praat oor geloof in Christus as Verlosser.
Hy het naderhand gevoel almal “preek” elke dag vir hom.
Hy het uiteindelik deur die genade van God, en die werk van die Heilige Gees,
tot bekering gekom en Jesus aanvaar as sy Verlosser en Here.
Toe hy hierdie getuienis met sy broer deel,
het hy ontdek dat sy broer volhardend begin bid het,
dat omstandighede geskep sal word,
en dat mense hom sal beriek met die Evangelie,
en dat die sluier van sy oë weggeneem sal word,
en dat sy blindheid sal oorgaan in kennis van die waarheid,
en verlossing in Christus!
Binne ‘n paar weke nadat sy broer vir hom begin bid het, het dit gebeur!
Moenie bly sit, en kyk, en toelaat dat die duiwel ‘n sluier oor jou vriende,
of familie, of enige mens se lewe trek, en hulle blind maak vir die waarheid nie.
Staan op teen die “god van hierdie wêreld”, soos die teks dit noem.
Bid. Bid. Bid vir ongelowiges.
Ernest