“Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het,
en die genade van God was groot oor hulle almal.” – Handelinge 4:33.

Ons het nie ‘n idee hoe groot God se genade regtig is nie.
Ons weet ‘n paar basiese feite daaroor,
soos Efesiërs 2:8 wat sê dat ons uit genade gered is,
maar ons het nie die vaagste benul van die krag van genade
wat vandag in ons lewens vrygestel kan word nie.

Kyk net in Handelinge 4 wat met die vroeë Christene gebeur het.
Die godsdienstige leiers van Jerusalem het hulle gedreig,
en hulle beveel om nie meer in Jesus se Naam te praat of te leer nie.
Wat doen hulle hieromtrent? Hulle bid!
Hulle bid min of meer só;
Vader, ons is nou gedreig.
Maar ons gaan nie ophou om te preek nie.
Ons gaan nie agter godsdienstigheid wegkruip nie.
Gee net vir ons meer krag en vrymoedigheid.
Ons sal aanhou.

Weet jy wat was die gevolg van daardie gebede?
Vers 33 sê: “…die genade van God was groot oor hulle almal.”
Die genade was gróót! Genade is al klaar groot.
En as die Woord sê God se genade is groot oor hulle almal,
dan was dit gróót!
Groot genade, so kragtig, dat toe daardie gelowiges dit ontvang,
die hele plek geskud het!
Genade so groot dat dit die apostels in staat gestel het om
“baie tekens en wonders onder die volk” te doen. Handelinge 5:12.

Genade is nie maar net ‘n abstrakte geestelike toestand nie.
Genade is werklik en sigbaar. Genade se krag is sigbaar.
En die opwindende daarvan is:
Die Bybel sê dieselfde genade wat vir daardie vroeë kerk beskikbaar was,
is steeds beskikbaar vir enige mens wat kortkom aan God se heerlikheid.
Hou dus aan om in geloof en die Naam van die Here te praat, en te leef, en te bid.
Die genade wat God gee is groot en kragtig!

Ernest