Die Bybel waarsku ons gereeld teen die gevaar van onenigheid.
Tog is dit dikwels ‘n probleem onder gelowiges.
Ons laat dit toe in ons huise, werkplekke, en selfs in ons kerke.
Natuurlik doen ons dit nie opsetlik nie.
Ons beplan nie doelbewus om rusies te begin nie.
Ons word onbewustelik daarby betrek.
Gewoonlik een onbenullige irritasie op ‘n slag, totdat die damwal breek.
Spreuke 17:14 sê daaroor:
“Om ‘n rusie te begin, is om ‘n damwal te breek;
Staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.”
Neem doelbewus standpunt in dat die klein onbenullige
geleentheid van onenigheid nie ‘n damwal word wat breek nie.
As jy geneig is om maklik geïriteerd te raak,
of weet dat sekere dinge of mense dit aan jou doen,
besluit dan nóú om dit te oorkom en so ‘n instrument in
die hand van die Here te wees in terme van sy wil en sy vrede.
Maak vrede met die feit dat die wêreld nie volmaak is nie, en jy ook nie.
Weet dat mense jou nie altyd “reg” gaan behandel nie.
Weet ook dat die lewe nie altyd regverdig is nie.
Moenie toelaat dat dit jou elke keer ontwrig nie.
Besluit nou om, deur die krag van die Heilige Gees,
jou vrede en vreugde te behou.
Dit hou jou gees en liggaam gesond, jou totale welsyn.
Meer nog, dit sal ook jou verhoudings gesond hou,
met die Here, en met mense.
Dit sal jou in ‘n posisie plaas waar jy ‘n getuie is vir die wil van die Here.
Dit bewaar jou ook daarvan om ernstige foute te maak.
Vra die Heilige Gees om jou te help om dadelik raak te sien
wat onenigheid kan veroorsaak,
en dat Hy jou help om dit te oorkom.
Leef vir die vrede van God.
Ernest