Hoe eentonig sou dit nie wees as ons almal dieselfde was nie?
Ons moet ons verskille vier,
en weet dat ons mekaar aanvul, en ‘n sterker span maak.
Prediker sê in hoofstuk 4 dat twee beter vaar as een.
As een val kan die ander hom ophelp.
Een alleen kan oorweldig word. Twee saam kan weerstand bied.
Paulus gebruik die beeld van die liggaam om
te beklemtoon dat ons mekaar nodig het, al verskil ons hemelsbreed.
Hy beklemtoon dan juis dat nie een belangriker as die ander is nie.
Ledemate van die liggaam kan nie sonder mekaar bestaan of klaarkom nie.
Ons kan nie sê dat ons mekaar nie nodig het nie, veral met verskille en al.
Lees gerus 1 Kor. 12:12-31 hieroor. Ons is sáám die liggaam van Christus!
Juis sáám is ons sterk, en is ons wat God bedoel ons moet wees!
Daar is dus groot krag in eenheid, en die duiwel weet dit.
Daarom probeer hy deurgaans onenigheid bewerkstellig deur ons verskille.
Hy neem die verskille tussen ons, wat God daar gestel het,
en geskep het om ons sáám sterker te maak,
en gebruik dit om ‘n wig tussen ons te probeer indryf.
So baklei mans en vroue oor hul verskille.
Maar God skep hulle om mekaar aan te vul en pro-kreatief te wees.
Kan ‘n man ‘n kind hê sonder die baarmoeder van ‘n vrou?
Kan ‘n vrou ‘n kind hê sonder die saad van ‘n man?
En ook persoonlikheidsverskille.
Die MBTI onderskei ongeveer 16 persoonlikheidstipes.
Nie een is reg en die ander verkeerd nie. Almal is reg! Geskep deur God!
Só deur God geskep, om ‘n groter en sterker eenheid en potensiaal te verseker.
Genadiglik is ons nie almal dieselfde nie.
Ons het nie ‘n “eentonige” God nie, maar ‘n verrassend skeppende God.
So verskillend geskep, en tog almal na sy beeld!
Kom ons vier ons verskille en besef ons vul mekaar aan.
Saam is ons die liggaam van Christus, en hoe meer ons onenigheid teewerk,
hoe gesonder en sterker is die liggaam.
Dank die Here vir die mense in jou lewe wat verskil van jou,
en deur wie God jou aanvul, en jou sterker maak.
Eugene Heimler sê van sy Duitse Nazi-konsentrasiekamp ondervinding:
“In Buchenwald het ek geleer dat daar in my, soos in alle ander mense,
‘n moordenaar sowel as ‘n heilige woon; ‘n liewe kind sowel as ‘n gulsige grootmens.
Daarom is ek in geen opsig iemand anders se meerdere nie;
ek en ons almal is gelyk, net mense.”
Ernest