Matteus 14:28:
“Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is,
beveel my om op die water na U toe te kom.”
Partykeer is ons so bang om ‘n fout te maak,
dat ons selfs nie eers in geloof optree nie!
Jy sit al jou tyd en wonder of jy ‘n stap moet neem.
Jy wonder of dit geloof of voortvarendheid is.
Jy wonder wat gaan gebeur as jy dink dit was ‘n geloofstap,
en dan uitvind dat dit nie God se wil was nie.
En uiteindelik doen jy as’t ware niks vir die Here nie,
uit vrees dat dit nie sy wil is nie.
Moenie bekommerd wees as jy dit opreg bedoel,
en dan ‘n geloofstap neem, en uitvind dat dit verkeerd was nie.
God kan enige fout wat ons in opregtheid en geloof gemaak het, regstel.
Enige gelowige het al baie foute “in geloof” gemaak.
As jy met ‘n opregte hart en volgens die Woord optree,
volgens jou insig, sal die Here jou nie in die steek laat nie.
Hy sal jou laat groei in sy wil, en Hy sal ook uiteindelik sy Goddelike doel bereik,
ten spyte van jou foute.
Die Here het dit gedoen die nag toe Petrus in die middel
van die see in geloof uit die boot geklim het.
Dink mooi oor wat hier gebeur.
Petrus het nie gebid en God se wil oorweeg voordat hy dit gedoen het nie.
Hy het net impulsief en oorweldig deur wat hy sien uitgeroep:
“Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”
Wat was Jesus veronderstel om te sê?
Hy kon sê: “Wag nou eers, jy het nie die geloof om hiernatoe te kom nie!
Bly liewers op die boot, jy gaan sink. Ek sal soontoe kom.”
Maar Hy het dit nie vir Petrus gesê nie en sal dit nie vir jou sê nie.
As jy in geloof optree en by wyse van spreke “uit die boot klim”,
sal die Here saam met jou gaan en jou optel as jy sink.
Hy sal jou saam met Hom neem.
Dit is beter om in geloof op te tree en uit die boot te tree,
as dat die lewe by jou verbygaan op die boot van ongeloof.
Baie mense neem nooit stappe in die geloof nie,
omdat hulle te bang is vir foute.
Hulle steek nie grense oor vir die Here nie,
omdat hulle eerder in hul gemaksone op die boot wil bly.
Moenie dat vrees jou keer om geloofstappe te neem nie.
Klim uit die boot en stap na die Here toe.
Hy sal jou aan jou hand neem en saam met jou stap.
Ernest