2 Timoteus 3:14-15:
“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo.
Jy weet tog wie jou leermeesters was,
en jy ken van kleins af die heilige Skrif.
Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei,
deur die geloof in Christus Jesus.”

As kinders van die Here het ons God se Woord in ons hart.
Daarom sê Paulus ons moet bly by wat ons geleer het en wat ons vas glo.
Daarom kan ons in die oorwinning lewe, al het ons nie al die antwoorde nie.
Daar is baie dinge wat ons nie verstaan nie,
geestelike dinge waaroor ons kennis tekort skiet.
Dinge wat ons nie alles weet nie, en presies hoe dit gaan gebeur nie.
Maar dit is nie daardie dinge wat jou gaan skade doen of vernietig nie,
want God is met jou op pad na die toekoms toe. Na môre en oormôre.
Die Here weet dat jy nie weet nie, en vra vertroue in Hom daarvoor.
Let op dat vers 14 geloof vra, en dat jy vas moet glo in wat jy wéét.
Dit is nie die dinge wat ons nié weet nie, wat ons laat struikel nie,
maar die dinge wat ons wéét en glo, maar nie doen nie!

Gestel jy loop in die nag in ‘n donker woud saam met ‘n gids wat ‘n flits het.
Die gids met sy flits hou jou op die regte pad.
Hy kén die pad, nie jy nie, en hy het die lig, nie jy nie.
Maar jy besluit op jou eie om af te dwaal, en jou eie pad in die donker te volg.
Wat dink jy sal gebeur? Jy sal verdwaal, oor goed struikel, seerkry…
Dit is presies wat in ons verhouding met die Here kan gebeur.
Hy ken die pad. Hy weet wat voorlê. Hy het die lig, waarin Hy jou wil laat loop.
Hy wil hê dat jy Hom moet vertrou vir die pad.
Hy weet dat Hy jou genoeg lig gee vir wat jy nodig het om Hóm te volg.
Dat jy moet konsentreer op die pad wat Hy jou nóú laat loop,
en nie die pad wat jy nog later eers moet loop nie.
Hy sal jou ook dáár lei as dit kom.
Hy gee jou net genoeg lig vir die tree wat jy nou moet loop,
en Hy vra jou vertroue in Hom, en afhanklikheid van Hom, vir die res van die pad.
Anders dwaal jy af en loop jy eie pad, omdat jy dink jy weet….

Jy weet dalk nie hoekom die Here jou nou op ‘n sekere manier lei nie.
Jy verstaan nie alles van die pad waarop jy nou is nie.
Maar God sal jou deur die Heilige Gees vergoed vir jou “onkunde”,
maar ook veral jou vertroue in Hom wanneer jy op sy tyd tot insig kom en sien.
Hy vra dat jy nóú in sy spoor volg,
Hom volg, en vertrou en volhard in wat jy wéét van Hom!

Ons is dikwels te bekommer oor die “groot openbaring” wat ons nog nie het nie,
in plaas van om gehoorsaam te leef met die geopenbaarde wil van God,
wat ons het, en verstaan, en wéét, en glo!
Dit is nie die openbaring wat ons nog nié het nie,
wat die grootste moeilikheid veroorsaak nie.
Dit is dit wat ons wéét, en nie gehoorsaam nie, nie doen nie,
of nie die Here voor vertrou nie, wat die moeilikheid veroorsaak!
Loop getrou in die Here se spoor,
tree vir tree, met die lig wat jy tot jou beskikking hét!
Die lig wat Hy tree vir tree vir jou gee.

Ernest