1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed met die oog op perspektief, dankbaarheid en voorbidding.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die heerlike teenwoordigheid van die liefdevolle en almagtige God, wat jou graag deur sy Woord en Gees ontmoet.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – Lees Josua 7:1-13. Hoekom was dit so moeilik om die beloofde land in te neem? Dis tog immers aan die Israeliete belowe? Waarom het hulle inspanning hier misluk?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WÊRELD: Wat maak dit vir jou moeilik om vas te staan in jou geloof vandag? Hoekom lyk dit of die kerk pakslae kry eerder as oorwinnend te leef in vandag? Wat het geword van die rede waarvoor Jesus gekom het (1 Johannes 3:8-9)?

5.    LUISTER VERDER NA GOD SE WOORD: Lees Filippense 2:12-13. Wat beteken dit prakties vir ons om ons met eerbied en ontsag daarop toe te lê om as Christene te leef? Waarin moet ons ons oefen om meer gehoorsaam te wees? Hoe sou onverdunde gehoorsaamheid aan God vir ons prakties lyk? Kyk gerus na die volgende verse om julle hiermee te help: Hebreërs 12:14-17; Galasiërs 6:7-8; Filippense 3:12; 1 Korintiërs 6:19-20; 1 Korintiërs 10:33; 2 Korintiërs 5:15 en 2 Korintiërs 10:5.

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN: Waarmee dink julle is God besig in ons dag in die lewe van Christene? Wat is God se doel in ons te midde van al die verwoesting en kwaad wat gedoen word rondom ons? Wat wil God doen in en deur ons as sy liggaam?

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE: Deel met mekaar waar jy sien en beleef dat gehoorsaamheid aan God afgewater word in ons dag. Neem ʼn nuwe besluit oor hoe jy as kind van God (in ‘n verbondsverbintenis met God) wil leef.

8.    BID saam deur die waarheid van Filippense 2:13. Bid ook dat die Here die komende Dankfees en Pinkster sal gebruik om ons nader aan Hom en sy wil te trek. Berei voor om dit saam met medegelowiges te kom beleef en te vier.