Spreuke 4:20-23:
“My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde!
Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte,
want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister,
‘n volle lewe vir hom wat dit besit.
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,
want dit bepaal jou hele lewe.”
Sodra jy God se Woord die finale gesag in jou lewe gee,
is die volgende stap van oorwinning oor die vyand,
om baie gereeld na die Woord van God te gaan en na God te luister.
Jy doen dit om God se wil en God se beloftes vir jou lewe toe te eien.
Let op die woorde: Jy gaan na die Woord toe en luister na God.
Dit is goed om tekste en selfs groot dele van die Bybel uit jou kop te ken.
Maar dit moet nooit ‘n plaasvervanger word vir die dissipline
om na die Woord van God te gaan nie, en dit te lees en te oordink nie.
Jy weet nie wat God op daardie spesifieke tyd aan jou gaan sê uit sy Woord nie,
en jy moet ook nooit dink jy ken die Woord goed genoeg nie.
Dit beteken dat jy ook dink jy ken God goed genoeg.
Dink só daaroor:
Dit versadig jou nie as jy honger is om net aan lekker kos te dink nie.
Inteendeel, dit maak jou nog méér honger.
Dit maak ook nie saak of jy al daardie kossoorte ken en weet hoe dit smaak nie,
dit versadig jou nog steeds nie. Inteendeel, dit maak jou ook nog méér honger.
Al kan jy al die smake baie goed onthou,
jy moet die kos steeds eet om jou honger te stil.
So is dit ook met die Woord van God!
Dit is belangrik en goed om dit te onthou,
maar jy moet na die Woord toe gaan,
en toelaat dat die Heilige Gees jou daarmee voed.
Daar is krag daarin om die Woord “onder oë” te hê,
en dit selfs in jou ore te hoor.
So kom dit in jou hart en jy lewe daarin en daardeur.
Moenie vandag net aan die Woord en tekste dink wat jy onthou nie.
Kyk weer wat sê Spreuke hierbo:
Luister goed, daarom moet jy dit lees, oordink dit, groei nuut, en lewe!
Moenie dit vergeet nie. Hou dit altyd in gedagte.
Kyk!.... Dit beteken lewe vir die wat daarna luister!
‘n Volle lewe sê Spreuke!
Lewenskwaliteit!
Lewe saam met die Here!
Ernest