Psalm 9:2-3:
“Met my hele hart wil ek U prys, Here,
wil ek van U magtige reddingsdade vertel.
Oor U wil ek my verbly en vrolik wees,
u Naam wil ek besing, o Allerhoogste.”

Ons moet nooit die belangrikheid van opregte lof onderskat nie.
Dit is een van die kragtigste geestelike wapens wat ons het.
Lof is baie meer as net “lekker” sing of opbouende woorde oor God.
Lof is die aanroeping van God self.
Dit stel die teenwoordigheid van God self vry.
En wanneer God op die toneel kom, val die vyand letterlik terug!

Ons het dikwels baie moeilike omstandighede in ons lewe.
Loop dit tegemoet met lof aan God.
Dit is nie ‘n maklike resep om iets te ontken of te vermy nie.
Dit is die oopmaak vir, en die fokus op God,
en sy werk en heerskappy in jou lewe!
Die bewuswording van God se teenwoordigheid,
en die oorgawe aan Hom in die moeilikste omstandighede,
gee jou nuwe krag en perspektief.
Moenie toelaat dat die duiwel jou van die oorwinning in Christus beroof nie.
Onthou saam met dit ook Filippense 4:13,
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”,
en lóóf God dan daarvoor!

C M Hanson het gesê:
“Lof aan God is soos ‘n ploeg wat diep in die grond van die mensehart indelf.
Dit plaas die saad van God se heerlikheid diep in ons daaglikse lewe”…..
met al sy kommer en moeilikhede.
Lééf lof!

Ernest