Filippense 3:13-14:
“Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.
Maar een ding doen ek:
Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Ek span my in om by die wenstreep te kom…”
Ons beleef dikwels mislukkings en teleurstellings uit die verlede.
Dit is asof die seer en pyn daarvan nie wil verdwyn nie.
Wat moet ons daarmee doen?
Ons kan nie daarmee voortgaan en hoop dat die seer net sal verdwyn nie.
Met verloop van tyd kan dit eerder erger as beter raak.
Partykeer word hierdie onverwerkte pyn vir party mense
werkliker as God se beloftes….
Dit begin ons in ons spore verlam,
en ons vries uit vrees vir verdere mislukking.
Die probleem is dat ons ons gedagtes in die verlede vorm,
in plaas van in die toekoms.
Ongeloof kyk na die verlede en dink; dit kan nie gedoen word nie.
Geloof kyk na die toekoms en sê; dit kan gedoen word,
en volgens God se beloftes is dit gedoen!
Geloof laat die mislukkings van die verlede agter.
Geloof tree in die oorwinning op wat in Christus reeds behaal is.
Die toekoms is gevul met God se beloftes!
Hebreërs 8:12 sê dat die Here genadig is oor ons verlede,
waarvan ons die onreg opreg bely,
en dat Hy aan daardie sondes nooit meer dink nie.
God wil nie hê dat ons heeltyd ons mislukkings
soos “ou koeie” uit die sloot grawe nie.
God se barmhartigheid is elke oggend nuut.
Neem God op sy Woord en pak elke dag nuut aan!
Kyk en leef vorentoe, en fokus op God se beloftes in sy Woord.
Moenie terugkyk en sê “ek kan nie”.
Kyk vorentoe en leef vorentoe en sê:
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee!” – Fil. 4:13.
Wat ‘n belofte om mee te leef!
Maak jou los van wat agter is.
Strek jou uit na wat voor is!
Ernest