Het jy ook al geworstel om iemand te vergewe?
Jy het al daaroor gebid, en gehuil, en pleit by God om jou te help.
En net wanneer jy dink jy het dit reggekry,
kom die negatiewe gevoelens terug.
Let op die woord: gevoelens.

Maak ‘n einde aan hierdie soort “mislukking” wat jy ervaar,
deur in die toekoms jou vergewensgesindheid op geloof te basseer,
en nie op gevoelens nie.
Ware vergifnis het nie bepalend te doen met hoe jy voel nie.
Dit is ‘n wilsbesluit, gebasseer op gehoorsaamheid aan God,
en geloof in God.

Sodra jy iemand opreg vergewe het, soos die Here dit wil hê,
moet jy hom beskou as permanent vergewe.
Wanneer die ou gevoelens weer by jou opkom,
en Satan wil jou weer daarmee oortuig jy het nie regtig vergewe nie,
en hy wil jou aankla en veroordeel, ….weerstaan hom!
Jy het reeds die persoon deur ‘n wilsbesluit vergewe,
in geloof vergewe, gebasseer op gehoorsaamheid aan God.
Weier om weer op die ou gevoelens te fokus.
Satan doen dit immers ook met ons ten opsigte van ander sonde.
Hy probeer ons weer en weer, en oor en oor aankla,
en laat twyfel of God ons regtig vergewe het.
Moenie op jou gevoel daaroor fokus nie,
maar neem God op sy woord daaroor.

Glo volgens 1 Joh. 1:9 dat jy vergifnis van jou eie sonde ontvang,
ook van die onvergewensgesindheid wat daar by jou was,
en dat jy deur jou vergifnis van ‘n ander persoon,
ook nou vergifnis van die Here daaroor ontvang.
Hy reinig jou van alle ongeregtigheid!

Vergewe onvoorwaardelik en permanent.
Maak die persoon vry van jou,
sodat jy doelbewus besluit hy of sy skuld jou niks.
Die krag van God sal die gevolge van die seer wat daar was wegneem.
Jy sal dit vir eens en vir altyd kan agterlaat.
Jou gevoelens sal jou nie weer daaroor kan aankla nie.
Al sou jy weer daaroor dink…sal jy en die persoon wat jy vergewe het,
in jou gemoed vry wees!

Moenie ‘n emosionele boekhouer word nie.
Moenie sorgvuldig rekening hou van al die verkeerde dinge
wat jy al moes verduur nie.
Leer om te vergewe en te vergeet.
Dit maak ‘n nuwe wêreld van vryheid, vrede en seën vir jou oop.

Ernest