Handelinge 27:22:
“Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed!
Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan.”
Vers 24 verduidelik dan dat God ‘n plan het met Paulus en almal op die skip.
En dan sê vers 25:
“Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God….”

Wat doen ons wanneer ons regtig in uiters moeilike omstandighede beland?
Sal ons in absolute desperaatheid na God uitroep?
Iemand het gesê die Here hóór ‘n sondaar se desperate hulproep.
Want dit is al wat ‘n sondaar kan doen; om desperaat te roep.
Maar by ‘n kind van die Here hóór die Here sy kind se geloofsroep!

Paulus weet hoe om in hierdie omstandighede in geloof te roep,
en nie in desperaatheid nie. Daar is ‘n groot verskil.
Daarom kan hy die manne op die stormgeteisterde,
sinkende skip aanspoor, om moed te hou!
Hy roep nie in desperaatheid saam met hulle uit nie.
Hy leer hulle wat geloof in God is, die ware God!
Hulle moes seker dink hy het sy kop verloor.
Hulle het al alles oorboord gegooi en kyk die dood in die gesig,
en hy sê hulle moet moed hou!

Dalk voel jy ook soos die manne op die skip, besig om te sink….
Jy wil ook uit desperaatheid skree.
Maar doen liewer wat Paulus gedoen het.
Jy is God se kind en Hy het ‘n ewigheidsplan met jou.
Hou moed. Vertrou op God. Roep in geloof na God.

Psalm 34:18-20:
“As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle,
en red Hy hulle uit al hul benoudhede.
Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.
Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref,
die Here red hom uit almal.”
Met regverdige word tog bedoel die kind van die Here!
In Christus is ons nou regverdig verklaar!
Hou moed!
Vertrou op God!
Roep in geloof na Hom!

Ernest