Lees eers 2 Timoteus 3:16:
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde
om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry,
verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.”

Het die Bybel nou die laaste sê,
wanneer ons eie tradisies en waardestelsels
die Woord van God se gesagsaansprake bevraagteken?
Ons sê maklik op die vraag “ja”. Maar ons laat tog toe dat
tradisies en waardestelsels groei, wat teen die wil van die Here is.
Ons moet weet: die gesag van die Woord
staan altyd bo die tydsgees van die dag.
Die Woord van God is die finale begin en eindpunt,
binne enige konteks van ons lewe.
Die Bybel is die enigste betroubare gids
en rigtingwyser na God se hart toe.

Kerklike leerstellings en tradisies moet hieruit groei,
en steeds hieraan getoets word.
Ons moet voortdurend bly vra of ons oortuigings
deur die Woord van God bevestig word.
Die huidige sosiale konteks kan ook nie die Woord verander nie,
maar die Woord spreek nuut binne die konteks.
Die Bybel is nie ‘n slawedrywer nie.
Die Bybel is nie ‘n wapen wat mense links en regs verwond nie.
Die kerkgeskiedenis moet ook nie net by die deur uitgegooi word,
asof ons nuwe insig vanuit nêrens kom nie.
Ons moet sensitief wees vir die lang tradisie van Skrifuitleg,
deur gelowiges wat deur eeue geworstel het,
om die wil van die Here reg te verstaan in hulle konteks.

Ons is nie die eerstes en enigstes wat die Skrif interpreteer nie.
En net so is ook óns konteks en waardestelsels belangrike
rondom die verstaan van die Bybelse boodskap.
As gelowiges van ons tyd kan ons nie anders as
om die Bybel tydsbetrokke te lees nie.
Die Bybel is nie tysdsgebonde nie maar tydsbetrokke!
Sensitiwiteit hiervoor lig al ons vooroordele uit,
Wat dikwels baie diep in ons eie harte lê.
Dikwels is dit wettiese vooroordele, dat net ons presies reg is,
vooroordele wat ons laat dink dit is presies net soos ons dink en doen.

Ons moet ons eie voorveronderstellings elke keer eerlik op die tafel sit,
elke keer wanneer ons die Bybel lees, en sensitief luister na die Heilige Gees.
En dan buig ons voor die getuienis van die Woord in ons konteks,
al is dit hoe moeilik vanuit ons vorige verstaan daarvan.
Die Bybel bly God se Woord…..in mensetaal.

Ernest