Voltaire het blykbaar ‘n pous aangehaal wat sou gesê het:
“If God made us in His own image,
we have certainly returned the favor.”
Die betekenis hiervan is belangrik.
Ons godsdiens, kerkwees en teologie is baie dikwels egosentries.
Ons is meer op onsself gefokus as op God.
Ons sien dit veral raak in ons gebede.
Ons bid nie net baie egosentries nie,
maar ons belyn ook ons eie sienings met die van God.
Ons moet eerder dit nog sterker stel:
Ons belyn God se sienings met die van óns.
Daarmee word bedoel dat Hy dan uiteindelik is soos ons teologie,
ons kerk, ons party, en ons kultuur en tradisies.
Nicholas Epley het saam met ‘n span navorsers ‘n studie hieroor gedoen.
Hulle bevind dat mense dit wat hulle meen God se wil is,
baie sterker met hulle eie sienings belyn as met ander mense sin.
Selfs as indiwidue oortuig kon word om hul standpunte te verander,
het hulle God se standpunt ook ooreenkomstig dit verander.
Natuurlik kan ons nie ontsnap aan ons eie beperkings nie.
Maar dit kan nie beteken dat ons godsdiens
net ‘n produk raak van ons eie gedagtes en oortuigings nie.
Ongelukkig gebeur dit dikwels.
Ons wil God dien soos ons wil, en nie noodwendig soos Hy wil nie.
Ons sal byvoorbeeld sê:
“Dit is nie nodig om kerk toe te gaan om in die hemel te kom nie.”
En dit is waar. Maar ons gebruik dit eintlik om God te dien soos ons wil.
Dit word net ‘n verskoning om nie kerk toe te gaan nie.
Lees gerus Hebreërs 10:25 hieroor…
Ons skep nou ‘n “god” met ‘n wil soos óns wil…
Mense was nog altyd baie goeie gode-patenteerders.
Ons maak gode wat ons pas, soos ons graag wil aanbid.
Na aanleiding van die tweede gebod,
maak ons nie ‘n afbeelding van ‘n god,
wat ons voor kniel en aanbid nie,
maar ons skep so ‘n god in ons gedagtes,
wat ons dan wil aanbid soos ons wil.
Maar die ware God staan bokant dit alles uit!
Hy troon verhewe bo al ons beelde van Hom wat ons self wil skep.
Wat ons wil dien soos dit ons pas. Ons misverstande en ons afgode…
Hy weerstaan ons pogings om Hom vir ons saak toe te eien.
Hy laat Hom nie in ons verpakkings vasvang nie.
Hy openbaar Homself te midde van ons eie pogings,
om by Hom uit te kom soos dit ons pas. Goddank.
Hy kom op sy inisiatief na ons toe, in Christus, deur die Heilige Gees.
En Hy maak Homself steeds kenbaar aan ons.
Deur Christus en deur die Heilige Gees. Weereens, Goddank!
Ons moet elke keer vrymoedig,
maar ook verootmoedigend voor Hom buig.
“Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sý wil kan doen.
Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hóm aanneemlik is.
Aan Hóm behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid.”
Hebreers 13:21.
Ernest