Dink mooi hieroor:
Enige Godsdiens wat daarop ingestel is om jouself te verbeter,
hou jou in die middelpunt van alles.
Ons Godsdiens moet oor God gaan.
Godsdiens is wat die woord sê:
God-diens, diens aan God, die dien van God.
‘n Godsdiens wat nie wegskuif van myself na God nie,
hou my in die middelpunt, en is selfsugtig.
Daarom bestudeer ons nie die Woord van God
om onsself te verbeter nie.
Ons bestudeer die Woord om God beter te leer ken.
Om juis uit die pad te staan sodat God alles kan wees.
Ons bestudeer die Woord om kleiner te word,
sodat Christus groter kan word.
Ons moet saam met Paulus kan sê: Vir my is die lewe Christus!
Ons kan nie onsself verbeter nie.
Dit is die werk van die Heilige Gees.
Hoe meer ons uit die Woord op God gerig lewe,
hoe meer sal die Heilige Gees ons verander,
om meer en meer soos Jesus te leef!
Dikwels maak ons die fout om die Woord te bestudeer
om onsself te verander.
En hoe meer ons worstel om onsself te verander,
hoe meer raak ons selfgerig.
Die regte soeke na God se wil in die Woord,
lei tot ‘n lewe wat op Hom gefokus is en waar Hy al die eer kry.
“Om te lewe is vir my Christus….!” – Filippense 1:21.
Besef dit nogmaals:
Om die word te bestudeer,
gaan nie in die eerste plek om veranderings in jouself te maak nie.
Dit gaan daaroor om God en sy wil nuut te ontdek.
Om nog liewer te word vir Hom!
Ernest