Daar is by ons almal sekere “voorkeur” Bybelgedeeltes of tekste.
Bybelboeke of hoofstukke wat ons graag lees.
Dikwels is dit die “goedvoel” tekste wat ons van God se liefde verseker.
Bybelgedeeltes wat ons veilig laat voel.
Die Bybel is egter nie ‘n spyskaart nie,
waarvan ons net sekere geregte kan kies, en net daarvan eet nie.
Leraars kan nie net preek uit gunsteling tekste nie,
of net preek oor siele wat gered moet word nie,
of net oor God se genade en liefde nie.
Hulle kan nie vergeet dat Jesus meer as die helfte van sy leringe
gewy het aan hoe sy volgelinge moet optree teenoor
uitgeworpenes en randfigure in die samelewing nie.
Net so moet ons ook die Bybel in sy volle bedoeling lees.
Ons moet die volle pad van God, saam met Hom, stap in die Skrif.
Dikwels het ons ‘n verskraalde lees van die Bybel,
wat klem lê op die moralisme, ten koste van die sosiale implikasies.
Dit maak dat baie mense na jare se Bybelstudie
steeds swak menseverhoudinge in plek het.
Hulle lees net die Bybelgedeeltes wat hulle laat goed en veilig voel.
Dink byvoorbeeld weer aan Jesus se woorde in Lukas 10,
wat beklemtoon dat ons nie ons naaste kan kies nie.
Of Jesus se bekende woorde in die Bergrede,
dat ons ons vyande moet liefhê,
en ‘n tweede myl saam met hulle moet stap.
Of dat ons, ten spyte van teenstand en vyandigheid,
bekers koue water moet uitdeel.
Woorde soos Romeine 12:17:
“Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.”
Die Bybel vra ook proaktiewe dade,
om doelbewus uit te reik en grense tussen mense af te breek.
Die Bybel vra nie net ‘n passiewe terugsit in ‘n gemaksone,
en “niemand kwaad aandoen” nie,
maar dat ons doelbewus brue moet bou.
Lees die Bybel en leef die volle implikasie,
van die volle boodskap van die evangelie.
Ernest