Dankbare mense gee om vir ander mense.
Dit gebeur omdat jy opreg dankbaar is dat God vir jou omgee.
Twee persone, menere Wilson en Thomas,
het in dieselfde hospitaalkamer gelê. Albei was baie siek.
Hulle moes baie stil gehou word en het min besoekers ontvang.
Hulle kon egter met mekaar gesels en het dit ook gedoen.

Thompson moes die hele tyd plat op sy rug lê,
en kon nie deur die venster sien nie.
Wilson kon darem soms regop sit en by die venster uitkyk.
Hy het dan altyd aan Thompson beskryf wat hy buite sien:
‘n Pragtige park, ‘n meer met eende en swane,
kinders wat hulle opgewonde met brood voer,
klein seilbootjies waarmee hulle speel,
hul ouers wat opgewonde saam met hulle rondhardloop.
Daar was ook bome, blomme, grasperke,
en ou-getroudes wat hand aan hand in die park loop.
Eendag het Wilson selfs ‘n optog deur die park beskryf.
Thompson het altyd fyn geluister,
en hom verlustig in die beskrywings van Wilson.
Dit was sy kontak met die buitewêreld.
Dit was voor die tyd van TV’s en selfone in die hospitaal.

Een nag het Wilson skielik en onverwags gesterf.
Thompson was baie hartseer oor die afsterwe van sy vriend.
Hy het die hospitaalpersoneel gevra of hulle nou sy bed kon skuif,
na waar die van Wilson gestaan het, voor die venster.
Hy wou graag nou self sien wat Wilson altyd aan hom beskryf het.
Groot was sy verrassing…..
Die venster het uitgekyk op een van die buitemure van die hospitaal…
Dit is al wat hy kon sien, net ‘n muur.
Wilson het sy dankbaarheid vir die lewe met Thompson gedeel.
Hy het gereeld Thompson opgebeur om die lewe “te sien en te bly lewe”!

Dit is ook wat ons as kinders van die Here in dankbaarheid kan doen.
Ons kan God en sy skepping met mense deel,
uit dankbaarheid vir al die seëninge wat ons het.
Mense wat dikwels nie meer vir God en sy skepping kan “sien” nie.
Dit is presies wat Jesus op aarde gedoen het.
Hy het God aan mense beskryf en uitgeleef sodat hulle God kon “sien”.

Kolossense 3:17:
“En wat julle ook al sê of doen,
sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus,
en dank God die Vader deur Hom.”

Ernest