Kan ‘n mens in alle omstandighede dankbaar wees?
Regtig?! Wel, as jy die Bybel glo kán jy verseker!
1 Tessalonisense 5:18 sê presies dit!
“Wees in alle omstandighede dankbaar”.
Dankbare mense is in alle omstandighede dankbaar!

Tauler van Strasbourg was ‘n bekende veertiende eeuse heilige.
Hy vertel dat hy eendag ‘n les oor dankbaarheid geleer het,
wat hy nooit ooit sal vergeet nie. En dit by ‘n bedelaar!
Hy het verby hierdie bedelaar geloop en opreg vir hom gesê:
“Mag God aan jou ‘n goeie dag gee, my vriend.”
Die bedelaar het dadelik en ook opreg geantwoord:
“Ek dank God dat ek nog nooit ‘n slegte dag gehad het nie.”
Tauler was vir ‘n oomblik stil en sê toe:
“God gee aan jou ‘n gelukkige dag, my vriend.”
Weereens het die bedelaar opreg geantwoord:
“Ek dank God dat ek nooit ongelukkig is nie.”
Nou kon Tauler sy nuuskierigheid nie verder bedwing nie.
“Nooit ongelukkig nie! Wat bedoel jy daarmee, ou vriend?”

Die bedelaar antwoord toe:
“As dit mooiweer is, dank ek God.
As dit reën, dank ek God.
Wanneer ek baie het, dank ek God.
Wanneer ek min het, dank ek God.
Aangesien God se wil nou my wil is,
sal wát ookal Hóm tevrede maak,
my ook tevrede maak.
Waarom sal ek dan ongelukkig wees,
wanneer ek regtig nie ongelukkig is nie?”

Tauler het absolute bewondering vir hierdie man gekry.
“Wie is jy?”, vra Tauler.
“Ek is ‘n koning”, antwoord die bedelaar.
“’n Koning!?”, roep Tauler uit.
“Waar is jou koninkryk?”, vra Tauler.
Die bedelaar het rustig en opreg geantwoord:
“In my hart. In my hart, waar God woon.”

Meister Eckhart het gesê:
“As die enigste gebed wat jy in jou lewe bid,
net ‘n opregte “dankie Here” gebed is,
is dit genoeg.”

Ernest