Jesaja 9:1:
“Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien.”
“In Hom was daar lewe,en dié lewe was die lig vir die wêreld.
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Johannes 1:4-5.
Charles Dickens het een van sy boeke met hierdie beroemde woorde begin:
“It was the best of times, it was the worst of times.
It was the season of light, it was the season of darkness.”
Die lewe is inderdaad so.
Dit voel soms vir jou of jy in die lig is, en soms in die donkerte.
In die “ou” dae het ons nog stoomtreine gehad.
Wanneer die trein deur ‘n tonnel moes gaan,
het die kondukteur die mense gewaarsku om hul
treinwaens se vensters toe te maak.
Die rede was dat die roet en rook van die stoomtrein
as gevolg van die tonnel by die treinwaens se vensters sou inwaai.
Die toe vensters en donker tonnel was nogal
‘n eienaardige belewenis op die treine.
Maar kort voor lank was die trein uit die tonnel,
die vensters is oopgemaak,
en die lig en vars lug het weer ingestroom.
Dikwels voel ons lewe ook so.
Ons gaan in donkerte in, en dit voel of die vensters toe is….
Maar God se teenwoordigheid is soos die toe vensters,
wat die roet en rook uithou en ons aan die lewe hou.
Ons kan Hom vertrou om ons veilig te hou.
Hy is nie net die lig aan die einde van die donker tonnel nie.
Hy is die lig wat deurgaans daar is,
maar wat ons soms sien, en soms nie.
Onthou vers 5:
“Die lig skyn in die duisternis,
die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Robert Alden sê hierdie ware woorde:
“There is not enough darkness in all the world,
to put out the light of even one small candle.”
Tog is die lig van een kers genoeg,
om die donkerte om die kers te verdryf.
Christus is die lig vir die wêreld!
Ernest