Prediker gee raad oor die lewe en sê in Prediker 9:4:
“Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop.”
Iemand het gesê die lewe is soos ‘n toffie, taai, maar lekker!
Die lewe is inderdaad dikwels baie taai.
Maar ons moet nie die lekker van die lewe misloop nie.
Ons moet nie verby die lewe leef nie.
Ingmar Bergman het as Sweedse rolprentregisseur
baie goeie flieks gemaak oor die sin van die lewe.
Sy flieks het jou altyd laat dink aan die lewe, en die lééf daarvan.
In een van sy flieks wou ‘n man selfmoord pleeg.
Hy het by die plaaslike leraar hulp gaan vra,
maar die het gesê hy kan hom nie help nie.
Die man het toe uiteindelik selfmoord gepleeg,
en die leraar het ‘n roerende begrafnis vir die man gehou,
wat deur baie van die man se familie en vriende,
en nog ander mense bygewoon is.
Almal mense wat “nie iets vir die man kon doen nie”.
Bergman sê dan aan die einde van die fliek;
ons het raad met die dood, maar nie met die lewe nie.
Prediker het daarteenoor gesê hy het raad met die lewe,
en nie met die dood nie.
Waarskynlik omdat hy lank voor Christus se opstanding geleef het….
Prediker sê hy weet hy gaan dood, 9:5, maar hy gaan sy lewe geniet.
Hy gaan sy brood met vreugde eet, en sy wyn met ‘n bly gemoed drink.
Hy gaan vrolike klere aantrek en sy hare goed versorg.
Die Here wil juis hê dat ons vreugde in die lewe sal hê,
en die lewe voluit sal geniet!
Solank jy “onder die lewendes is”, leef met hoop en vreugde!
Ernest