Prediker is vol raad vir ‘n vol lewe!
Prediker 9:9-10 sê:
“Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet.
Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen.”
Sommer baie raad in twee sinne.

Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet…
Dit geld natuurlik almal met wie jy in verhoudings leef.
Hy sê eintlik hier jy kan nie regtig die lewe op jou eie geniet nie.
Die lekker van die lewe wil mens juis met iemand deel.
Met jou vriende, familie, geliefde…
Dikwels is jou eerste behoefte om iets wonderliks
wat gebeur het, met iemand te deel.
Moenie jou verhoudings afskeep,
of as vanselfsprekend aanvaar nie.
Alle verhoudings vra harde werk,
om te groei na die volle potensiaal daarvan.

Doen ook alles met toewyding wat jou hand vind om te doen.
In die skitterende fliek, “City of Joy”,
sê die een karakter vir die ander een
dat daar drie maniere is om op die lewe te reageer:
“Run.
Spectate.
Commit.”

Die lewe bring elke dag nuwe geleenthede.
Dit is niemand anders as God self wat dit vir jou gee nie.
Gebruik die kanse wat die lewe gee.
Moenie net sit en kyk nie,
en moet verseker nie weghardloop nie.
“Commit”, en gaan voluit!

Ernest