Om by God te wees beteken nie om van die
realiteit van die lewe te ontsnap nie.
Dit is nie asof jou probleme meteens verdwyn as jy glo nie.
Vra maar vir Job.
Wanneer hy hom tot God wend in Job 10,
is daar hope pyn in sy hart.
Hy konfronteer God met sy waarom vrae,
oor sy kinders se dood,
sy bankrotskap, en sy siekte.
Maar God se wysheid en krag is vir hom veels te groot.
God se almag maak dat Hy kan doen wat Hy wil.
Hy skuld Job geen verduidelikings of antwoorde nie.
Wie kan vir God tot verantwoording roep?
Wie sal God ooit kan antwoord? Verse 12-15.
Is hy besig om sy asem te mors in die gesprek met God?
Job se bewussyn van God se grootheid
neem nie sy eie seer weg nie.
Daarom begin hy God vanaf vers 17 beskuldig,
dat Hy nie meer omgee nie,
en dat dit selfs Hy is wat die swaarkry bring.
Nogmaals pleit Job dat hy onskuldig is, in vers 21.
Hy het nie skelm iewers geraamtes in sy kas nie.
God weet tog dat hy regverdig leef!
Dit voel nou vir hom nutteloos om aan te hou leef.
God gee nie meer om nie.
Niks maak meer vir Job sin nie.
Niemand kan as skeidsregter tussen hom en God optree nie.
Niemand kan tog God se straf wegneem nie….
Ons kan identifiseer met Job se pyn en vrae.
Ons voel om saam met hom te kla oor baie dinge,
dinge wat nie sin maak nie. Vrae op vrae.
Job leer ons egter ‘n baie belangrike ding:
Praat eerder mét God as óór God.
Praat eerder mét God oor jou pyn,
as wat jy óór God en jou pyn praat.
Iemand het gesê:
Beroep jou eerder óp God téén God,
as wat jy óór God praat en God beskuldig.
Neem jou saak altyd eerder na God as na iemand anders.
Ernest