In Job 12:4 lees ons:
“Ek is ‘n grap vir my vriende,
en dít iemand wat tot God roep,
en van Hom antwoord kry.
‘n Regverdige, ‘n vrome wat ‘n grap is!”
Job se vriende het ‘n maklike verklaring vir alles gehad.
Job het oortree, en daarom straf God hom.
Wanneer slegte goed met jou gebeur, het jy oortree.
So eenvoudig soos dit. Job val glad nie hiervoor nie.
Hy het die moed om sy vriende in die oog te kyk,
en skerp van hulle te verskil.
Hy het sy dapperheid behou om padlangs met God te praat,
selfs in die teenwoordigheid van sy vriende.
Dit vra openheid, eerlikheid, en waagmoed, en hoflikheid.
Alles in een!
Job sê reguit vir sy vriende dat hulle ongevoelige
en onwyse God-verklaarders is.
Terwyl hy opreg en eerlik met God worstel,
reken sy vriende hy moet net aanvaar dat hy skuld het.
Hulle het vir alles die een veroordelende antwoord na die ander.
Tog verstaan hulle eintlik so min, en is hulle sonder ware empatie.
Ons moet onsself ook afvrae of ons heeltyd antwoorde wil gee,
en as’t ware rég wil wees, dat ons wéét,
en of ons eerder dáár wil wees vir mense.
Ons dink en glo nie dieselfde nie. Ons verskil oor verstaan.
Ons moet eerder geleenthede tot medelye raaksien,
as geleenthede tot verskille.
Daar is ‘n groot verskil tussen die soort eerlikheid by Job,
aan die een kant, en sy vroom vriende aan die ander kant.
Job is eerlik te midde van sy pyn en eerlike soeke.
Maar hulle antwoord hom asof hulle presies weet hoe God optree.
Ons moet nie selfaangestelde verklaarders van God se wil wees nie.
Ons moet eerder nederig bly,
empatie verleen, en saam soek na God se wil.
Ernest