2 Konings 20:11 sê:
“Die profeet Jesaja het die Here aangeroep,
en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het,
tien trappe laat terugskuif”.
Was dit die gevolg van Jesaja se kragtige gebed?
Hoeveel keer hoor ons nie dat mense sê “gebed is kragtig” nie?
Tog is dit nie die punt van gebed nie.
As gebed bloot net krag sou hê, word dit een of ander magiese handeling.
Sou dit beteken dat die “geloofsreuse” onder ons,
se gebede meer krag sou hê as die geestelike “beginners” of “sukkelaars”?
Dit gaan in gebed oor God!
Dit gaan daaroor dat, wié ookal bid, God ernstig opneem sal word in gebed.
Gebed is om in die heilige teenwoordigheid
van die teenwoordige en lewende God te wees.
Dit gaan nie oor hoé kragtig óns bid nie.
Ons hoor dikwels “kragtige gebede” wat as’t ware arm druk met God.
Ons hoor dan hoe “kragtig” iemand gebid het….treffend….
Ons kan geen eer opneem vir die manier hoe ons gebid het,
en hoe God dit beantwoord het nie.
Ons oortuig God nie met die “krag” van ons gebed nie.
Gebed gaan nie oor ons nie, maar oor God!
Gebed is om leeg van jouself voor God te kom staan.
Dit is om al jou vertroue en hoop alleen op God te plaas.
Gebed is leeg van onsself, en vol van God se eer.
Gebed is nakend opreg voor God.
God se genade is uiteindelik waaroor dit gaan.
Nie ons goeie, en groot, en kragtige gebede nie.
Ernest