Lukas 3:10:
“Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
Vers 11: “Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het,
moet dit deel met iemand wat nie het nie”
Vers 13: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie”
Vers 14: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie,…”
Johannes die Doper se woestynprediking is radikaal.
Hy praat nie oor hoe mense in die hemel kan kom nie.
Hy praat oor hoe die hemel op die aarde moet grond raak.
Volgens Johannes gebeur dit wanneer die wat oor twee stele klere beskik,
een stel deel met die wat nie het nie.
Dit gebeur wanneer geregsdienaars nie langer mense intimideer nie.
Dit gebeur as die magtiges ophou om onregverdig wins te maak.

Johannes weet dit bedroef God wanneer ‘n samelewing in onreg verval.
Wanneer die armes nie genoeg kos het om te eet nie.
Of persone in magsposisies mense intimideer.
Hy dui ‘n nuwe roete vir ‘n regverdige samelewing aan.
Maar ons kyk hierdie hoop gewende roete so maklik mis.
Ons bring so min met God se wil in verband.

God se wil is onveranderlik, maar tog “pas Hy sy wil aan” om mense te red.
Ons kla aanhoudend oor omstandighede in Suid Afrika.
Ons murmureer oor swak dienste, misdaad en korrupsie.
Maar om net hierdie foute oor en oor te bekla verander net mooi niks nie.
Verandering kom wanneer gelowiges uit hul geriefsones klim,
en ‘n verskil begin leef ter wille van die koninkryk van God!
Ons moet beweeg, en nie net sit en tob nie.
Ons moet bid, en ons gebede moet aangevul word,
met die regte woorde en dade.
Hoe moeilik is dit om een arme te help?
Of om een geregsdienaar aan te moedig en vir hom te bid?
Of om ‘n sakepersoon te oortuig dat wins nie die enigste motief is nie?
So gebeur God se wil prakties en radikaal in ons lewe.

Ernest