Radikale verskuiwings
Johannes die Doper het die weg vir die Here Jesus kom berei.
Maar hy doen dit nie volgens sy tyd se godsdiens en voorskrifte nie.
Ook nie volgens sy eie familie se verwagtings nie.
Sy pa, Sagaria, was ‘n priester.
Priesterskap was oorerflik, en almal verwag hy sou as priester optree.
Maar Johannes kies vir die woestyn!
Daar gaan kondig hy die Messias se koms aan.
En in plaas van die klem op Abraham as hul voorvader, sê hy in Lukas 3:8:
“Dra liewer vrugte wat wys dat julle bekeer is.”
Daar in die woestyn wys hy dat die godsdiens
van ‘n plek na ‘n Persoon verskuif.
Nou setel dit in Christus, en nie in aardse heiligdomme soos die tempel nie.
Sederdien is geloof dinamies, en nie staties nie.
Dit is nie professioneel, of gebou gebonde nie.
Geloof gaan nou oor ‘n wêreldwye nuwe familie.
Navolgers van Christus oor taal en kultuur en kleurgrense heen.
Johannes maak die wil van God bekend deur sy radikale leefstyl.
Daar in die woestyn beleef mense dit.
Hulle beleef dat godsdiens nie maar net gaan oor statiese vrae,
oor jou eie soektogte na geluk, en antwoorde op jou eie pyne nie.
Hulle ontdek dat dit ‘n leefwyse is. Godsdiens is ‘n leefwyse, vir God.
Johannes se teen-die-grein optrede wys dat God se wil
nie net in die tempel gevind word nie, maar ook in die woestyn.
Ons het dikwels vooropgestelde idees van hoe en waar God behoort te werk.
Johannes wys aan ons dat ons God op geen manier kan “inperk” nie.
Ernest