Jesus sê vir die “busy body” Marta in Lukas 10:41-42:
“Marta, Marta, net een ding is nodig.
Maria het die beste deel gekies,
en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
Jesus het in sy lewe die balans gehandhaaf tussen luister en doen.
Hy luister en maak tyd saam met die Vader, en doen dan.
Dit is ook die kern van die verhaal in die gebeure rondom Marta en Maria.
Om met wysheid die balans te ken tussen luister en doen.
Dit is nie dat Jesus wou hê Marta moet ‘n Maria wees nie.
Hy wou net hê sy moes ook die beste deel kies.
En dit is om op Hom te fokus.
Sy moes die balans kry tussen luister en doen, vir die Here.
Marta’s kan hulle maklik uitbrand.
Hulle kan ook in hulle doen die kernbetekenis van hulle “doen” mis.
Aan die ander kant kan Maria’s ook maklik net sit en luister.
En uiteindelik kry hulle niks gedoen nie,
en het dit ook nie veel betekenis nie.
‘n Jong priester wou net bid, en nie werk nie.
Hy het ‘n probleem gehad met die konsep “bid en werk”.
Die hoofpriester het hom genooi om saam te gaan roei op die meer.
Die hoofpriester het met net een spaan geroei,
en die boot het net al in die rondte beweeg.
Die jong priester sê toe hy moet met albei spane roei,
anders sal hulle nêrens kom nie.
“Jy is reg”, het die hoofpriester gesê,
“Die een spaan is gebed, en die ander spaan is werk.
As jy nie albei doen nie gaan jou geloofslewe net in sirkels draai.”
Dit is wat Jesus vir Marta wou sê.
Luister….en doen.
Luister eers na Jesus se woorde, en doen dan.
Ernest