Stephen Covey het gesê:
“People with an Abundance Mentality believe
that there is plenty for everyone.”
Dankbare mense glo in oorvloed en nie in suinigheid nie.
Hoe meer jy weggee, hoe meer het jy.
Maar as jy net bymekaarmaak, en opgaar, kan jy alles verloor.
Dit is soos die boer wat nie sy koei vir ‘n week lank melk nie,
omdat hy die naweek mense kry, en genoeg melk wil opgaar.
In plaas van vyf emmers melk, is die koei dan op die Vrydag opgedroog!
Matteus 6:19: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie…”
Vers 20: “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar…”
Deel eerder dit waarmee jy geseën word met ander mense.
‘n Boer wat dikwels aangewys is as die beste koringprodusent,
het in ‘n onderhoud gesê dat hy sy goeie koringsaad met sy bure deel.
Die verslaggewer was verbaas en het hom gevra hoekom hy dit doen.
Sy bure skryf dan ook elke jaar vir die kompitisie in!
Die boer het verduidelik dat die wind die stuifmeel van die koring
van veld tot veld dra, tussen hulle almal as bure.
Indien sy bure swak koring sou produseer,
sou die kruisbestuiwing ook mettertyd aan hom swak koring gee.
Hulle moet dus almal mekaar help om goeie koring te produseer,
en so help hulle almal mekaar, onselfsugtig.
Matteus 5:7: “Geseend is die wat barmhartig is,
want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
Deel dit waarmee jy geseën is met ander!
Die Here seën ons, om ook deur ons ander te seën.
Ernest