Feuerbach, die filosoof, het gesê: “’n Mens is wat jy eet”.
Ons is inderdaad deesdae baie gesteld op ons gesondheid en wat ons eet.
Dit is ook glad nie verkeerd nie, en inderdaad baie goed.
Maar is ons net so gesteld op ons geestelike gesondheid?
Gelowiges moet mooi let op hulle geestelike voedsel.
Gelowiges is verseker ook wat hulle eet, of nie eet nie,
in terme van die Woord.
Ons is baie gesteld op ons vitamiene innames.
Ons neem genoeg vitamiene A.
Vitamiene A staan vir Aanbidding.
Dit werk op drie geloof beginsels van;
fokus op die Here, leef afhanklik van Hom, en getuig vir Hom.
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is...” Kolossense 3:2.
Neem genoeg vitamiene B.
Vitamiene B is Bybel lees en Bid. Gebed is asemhaling vir die siel.
Ons kan nie sonder kontak met God geestelik oorleef nie.
Neem ook genoeg vitamiene C.
Vitamiene C bou jou immuniteit. C staan vir Christus.
Christus staan sentraal en jou hele lewe gaan oor Hom.
Dit is nie meer jy wat leef nie, maar Christus in jou.
Hy gee aan jou die nuwe lewe!
Neem ook genoeg vitamiene D.
D staan vir Dankbaarheid en Dien.
Dien die Here in dankbaarheid,
en dien ook jou medemens met die liefde van die Here.
So kry die lewe vir jou nuwe betekenis.
En vitamiene E.
E staan vir Eer aan God.
Uiteindelik kom alles van God af,
Hy versterk ons en gee ons krag!
Daarom bid Paulus in Kolossense 1:11:
“Mag God wat oor die mag en die heerlikheid beskik,
julle versterk en aan julle al die krag gee
om in alle omstandighede geduldig te volhard.”
Jou hele lewe tot Eer van God!
Ernest