Dit is opvallend dat die Bybel dikwels vertel dat God
onwaarskynlike mense gebruik om iets spesiaals vir Hom te doen.
Ragab, wat die verspieders in Jericho versteek, is ‘n prostituut.
Gideon, van die spreekwoordelike Gideonsbende, was uit ‘n baie arm gesin.
Jefta, die rigter, was ‘n buite egtelike kind van ‘n straatvrou.
Koning Saul kom uit ‘n onbelangrike familie.
So sou ons kon voortgaan...
Dit bring ons by Jeremia.
Hy kom van die gehuggie Anatot.
Sy pa, Abjatar, is deur koning Salomo na Anatot verban!
Almal sou maar skeef kyk as Jeremia in die straat afloop.
Tog kies God om Jeremia te gebruik om die volk en regering aan te spreek.
Jeremia 1:7:
“Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê “Ek is te jonk nie”.
Jy moet gaan na wie toe Ek jou ookal stuur...”
In ons land se omstandighede meen jy dalk ook dat God beswaarlik
vir jou sal kies om verandering te bewerkstellig.
Om iets spesiaals vir Hom te doen in hierdie land.
Maar juis dit maak jou die kandidaat.
Jy word geroep om sout en lig en suurdeeg vir die Here in hierdie land te wees.
Jy word deur die Here opgeroep om te bid, in die bres te tree, vir hierdie land.
Jy word geroep om te getuig van God se goedheid en genade vir hierdie land,
ten spyte van so baie dinge wat verkeerd kan loop.
Jy word geroep om suurdeeg te wees,
wat deur jou optrede en woorde ‘n verskil maak in mense se lewens.
God vertrou jou op jou stukkie aarde met die mense wat oor jou pad kom.
Glo jy dit? Of dink jy jou taak is eerder om terug te sit,
en vanuit jou leuen stoel die mense en regering van die land te kritiseer?
Moenie soos Jeremia dink, dat jy ‘n onbeduidende mensie is,
wat geen verskil kan maak nie.
Moet nog minder deel word van die negatiewe gees,
wat die duiwel deur jou wil aanblaas,
en waarmee hy Christene wil verlam in hul roeping.
Net soos Jeremia, leef ons in moeilike tye in ons land,
en kry ons, soos Hy, opdrag om vir God te gaan leef in hierdie omstandighede,
te gaan bid vir mense, en ‘n verskil in mense se lewens te gaan maak.
Glo jy dit?
Of glo jy dat Hy jou roep om net negatiewe kommentaar te lewer,
en hooploosheid te verkondig....
Wat glo jy regtig, en wat doen jy?
Ernest